Die Gees: Jou Vaste Fondasie
Die Heilige Gees se een taak is om ons staande te hou wanneer alles om ons tuimel. Juis dit bid Paulus: dat God ons mag gee, " _na die rykdom van sy heerlikheid, om met krag versterk te word deur sy Gees in die innerlike mens_" (Ef 3:16). Die "innerlike mens" is daardie diepste kern van wie jy is – jou gees, jou hart, jou identiteit in Christus. Dit is nie afhanklik van jou omstandighede, gesondheid, prestasies of reputasie nie. Dit is 'n krag wat jy ontvang wat nie van jouself kom nie – maar van God se heerlikheid, sy glorieryke teenwoordigheid wat geen einde het nie. Dit beteken God se volheid vloei in jou in, sodat sy krag jou van binne staande hou.
Hierdie krag is nie brute mag nie, maar geestelike volharding; nie selfvertroue nie, maar Geesvertroue. Wanneer jy van binne versterk word, word jy stabiel en standvastig van buite. Jy leef nie net uit wilskrag nie, maar uit Geeskrag. Jy word 'n mens wat staande bly – al bewe jou wêreld. Net God maak dit moontlik.
ANKERGEDAGTE: Deur die Gees is God se teenwoordigheid jou konstante realiteit, sodat jy nie in golwe van onrus steier nie.
Gebed: Heilige Gees, versterk my asseblief met U krag in my innerlike mens, sodat ek standvastig kan bly in alle omstandighede.
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Lees Efesiërs 3:14-19. Neem ‘n oomblik om stil te word en jou eie innerlike toestand te ondersoek. Identifiseer ‘n spesifieke area waar jy tans swak of onseker voel, en vra dan die Heilige Gees om jou in daardie area te versterk soos hierdie teksverse jou leer.
Kruisverwysings vir verdere studie:
- Kolossense 1:11 : “Hy sal julle met alle krag versterk volgens die mag van sy heerlikheid, sodat julle met blydskap volharding en geduld kan bewys.”
- Jesaja 40:31: “Maar die wat op die HERE wag, kry nuwe krag; hulle vaar op met vleuels soos die arende; hulle hardloop en word nie moeg nie; hulle wandel en word nie mat nie.”
MUSIEKKEUSE VIR VANDAG:
Onlangs het die Eden Kameratakoor (van George) ‘n komposisie van die Noorweegse komponis, Ola Gjeilo – “Blessed Light of the Trinity” (“Lux Beata Trinitas”) gesing. Dit voel vir my gepas om dit te plaas by die gebede van Paulus in Efesiërs. Hier word dit uitgevoer deur die ACJC Alumnikoor van Singapore. DIe Engelse vertaling van die Latynse woorde verskyn in die video.

