INSTRUCTIO #22: Die Kerk-in-Beweging

30-31 Mei 2025 (naweekdenke)

INSTRUCTIO #22: Die Kerk-in-Beweging

“Wees gereed…”
“Maar julle sal krag ontvang wanneer die Heilige Gees oor julle kom, en julle sal my getuies wees … tot in die uithoeke van die wêreld.” (Hand 1:8).

Gister, op Hemelvaartdag, het ons besin oor die betekenis van Jesus se opdrag om te “wag”. Allermins ‘n rondsit-en-wag. Nee; hulle was “almal eendragtig in gebed en smeking” (v14). ‘n Heilige pouse.

Drie jaar lank het Jesus sy dissipels toegerus om “vissers-van-mense” te word. Nou was net één “ding” nog nodig: die Goddelike Asem om die instruksies in beweging te bring. Die Kerk – Jesus se liggaam – sou begin lewe, wanneer die Asem oor hulle uitgestort word. Die nuut-gemaaktes, lewend met God se Gees.

Hierdie Instructio-reeks oor Jesus se opdragte eindig met die laaste, noodsaaklike skakel in die ketting van bemagtiging. Dis die oproep om nie in ons eie ywer uit te hardloop nie, maar te verstaan dat ware invloed en getuienis slegs moontlik is wanneer ons gelei word deur die Gees van die Koning wat reeds heers.

Kerk-in-beweging beteken om die diepste behoeftes van ‘n verlore wêreld te ontmoet – nie met menslike vermoëns nie, maar met die bonatuurlike krag van die Heilige Gees. Dit is om, vanuit die hart van gebed en afhanklikheid, die Groot Opdrag (Matt 28) te leef as ‘n voluit geesvervulde lewe.

Wat weerhou jou daarvan om ten volle te beweeg in die krag van die Gees vandag?

IN JOU GEBED bid vir jou eie gemeente om ‘n lewende, geesvervulde deel van God se Kerk-in-beweging te wees.


VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
Bybelstudietekste vir konteks/aanvulling:

Handelinge 1:4-8: Die kernopdrag om te wag en die belofte van die Gees.

Handelinge 1:12-14: Die hoe van hulle wag – eendragtig in gebed.
Johannes 14:16-17, 26; 15:26; 16:7-15: Jesus se beloftes oor die Parakleet (Trooster/Heilige Gees) wat sou kom.


VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

Ek sluit die “INSTRUCTIO”-reeks af met ‘n grootse uitvoering van die SA AFM-koor: “Spirit-Renewed”. (Deur John Rodriques).
Saam met jou bid ek dit vir die bewegende Kerk – Christus se liggaam – wêreldwyd.
Die dirigent is Damian Philander.