… Van Saaier tot Visnet
ANKERTEKS: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande vis bymekaar gemaak het. Toe dit vol was, het hulle dit op die strand uitgetrek, gaan sit en die goeie vis in mandjies bymekaar gemaak en die onbruikbare vis weggegooi.” (Matteus 13:47-48)
ANKERGEDAGTE: Leef met moed, want die voleinding van God se plan is seker en Sy werk alleen.
Ons reis deur Jesus se gelykenisse het begin by die Saaier – ’n herinnering dat alles begin by God se inisiatief. Vandag sluit ons af met die gelykenis van die Visnet. Nie net begin alles by God nie; ook die voleinding is in God se hand. Die Alfa en die Omega.
Soos ’n groot net wat oor die waters gespan word, strek die Woord – gesaai deur Christus – om alle mense te bereik. Ná die spanning van dienswerk en die afwagting van die oes, kom die belofte van voltooiing: dit is nie ons werk nie, maar die Here s’n.
Daarom leef ons met onwankelbare moed. Ons roeping is nie om die uitkoms te beheer nie, maar om getrou te bly in ons roeping. Om vissers van mense te wees. Die glansryke sekerheid is dit: God, en God alleen, bring die voleinding. En dit is waarmee ons mekaar vandag kan bemoedig – met hoop gebou op God se onfeilbare beloftes.
GEBED: Heer, die Alfa en die Omega, dankie dat U die Begin en die Voleinding van alles is.
TEKSVERSE VIR VERDERE LEES:
Matteus 13:47–50
Openbaring 21:6
1 Korintiërs 3:6-9
Lukas 5:10
As God se medewerkers word ons geroep om getrou te werk, wetend God sal self alles voltooi.

