MEER AS NET ‘N STORIE #19

… Troon of tronk?

ANKERTEKS: “Dit verseker Ek julle: alles wat julle vir een van die geringste van hierdie broers van My gedoen het, het julle vir My gedoen.” (Matteus 25:40)

ANKERGEDAGTE: Die Koninkryk van God word sigbaar elke keer as ons die Koning herken en dien in die oë van die geringstes.

Die Jode het destyds ’n Messias van mag en sukses verwag – Een wat hulle uit verdrukking sou red. Maar Jesus verras. Hy kies nie die swaard en status nie. Hy kies salf en sorg. Hy identifiseer Homself nie met die invloedrykes en magtiges nie, maar met die hongeriges, die siekes, die vreemdelinge – dié wat aan die kantlyn leef.

Jesus praat hard en duidelik met ons – die skeiding tussen skape en bokke lê nie in teologiese kennis of geleerdheid nie, maar in dade van liefde. Met elke afbuk na die geringstes raak ons aan Hom sélf. Hierdie onsigbare dade van deernis is nie net mooi nie – dis hemels.

Hierdie gelykenis bied vir gelowiges soveel troos en bemoediging – ons Here is hier by ons; teenwoordig op die hoeke van die strate; in die oë van die hulpeloses; daar waar mense opstaan vir wat reg en regverdig is. Sy teenwoordigheid is nie ‘n hersenskim nie, maar tasbaar. Vir elkeen wat kyk, en raaksien.

GEBED: Ons Here, open ons oë om U vandag in die behoeftes van die geringstes raak te sien, sodat ons lewens ‘n daaglikse ontmoeting en bewys van U werklikheid kan wees.

TEKSVERSE VIR VERDERE LEES:

Matteus 25:31–46

Lukas 4:18–19

Jesaja 53:3

Hebreërs 13:1–3

Psalm 146:7-9

Die Messias demonstreer fisies dat Sy Koninkryk sigbaar is in dade van liefde deur die veragtes met deernis op te hef. Daartoe word ons, sy volgelinge, dan ook opgeroep.