MEER AS NET ‘N STORIE #18

… Olie vir die Nag

ANKERTEKS: “Wees dan waaksaam, omdat julle nie die dag en ook nie die uur weet nie.” (Matteus 25:13)

ANKERGEDAGTE: Die volgehoue opbou van ‘n verhouding met God hou die geloofsvlam brandend wanneer die donkerte van die lewe kom.

“Wag-op-die-Here” is nie ‘n passiewe sit nie – dit vra van jou getroue diensbaarheid. (Sien #17). Maar “wag-op-die-Here” vra nóg meer – dit vra ‘n innerlike vurigheid wat jou deur die lewe se donkerte sal dra. Dit leer die gelykenis van die bruidsmeisies wat langer vir die Bruidegom moes wag as waarop hulle gereken het.

Geloof kan verflou as uitdagings te groot word. Geloof en vertroue kan (ongelukkig) nie oor-en-weer geleen word nie. Geloof is iets wat van diep binne af versterk moet word, sodat – die dag as jy dit die nodigste het – dit jou kan staande hou.

Is jou geloof net van korte duur solank dit goed gaan? Of kan die donkerte van die nag maar kom? Is daar genoeg innerlike olie – ‘n diep verhouding met God wat die lig in jou siel sal laat aanhou brand? Waaksaamheid is ‘n volgehoue verdieping van geloof wat jou regop hou, selfs wanneer die krisisure lank duur.

GEBED: Heilige Gees, U is die Bron van die olie wat my siel laat brand.

TEKSVERSE VIR VERDERE LEES:

Matteus 25:1-13

Psalm 27:14

Jesaja 40:31 en Jesaja 64:1-9

Psalm 119:105

Romeine 8:26

Hierdie gedeeltes beklemtoon die noodsaaklikheid van ‘n aktiewe, Gees-gedrewe opbou van ‘n innerlike lewe wat, soos reserwe-olie, jou in staat stel om te volhard tot Sy koms.