“Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit” (Job 1:21a).
Die boek Job is waarskynlik die oudste manuskrip opgeneem in die Ou Testament. Dit is geskryf soos ‘n storie: “Daar was ‘n man…” Dit sluit bykans af soos ‘n sprokie: “And they lived happily ever after…” (Sien Job 42:12). Die boek maak baie vrae by lesers – duisende jaar later – wakker; maar, soos ‘n professor op Universiteit altyd gesê het, “Gebruik die teks soos dit is”. Met ander woorde: “Daar was ‘n man…”
Ons het wel ‘n probleem: in Hebreeus is hierdie grotendeels as poësie geskryf. Ons weet darem dat ‘n mens nie ‘n gedig lees soos jy ‘n koerantberig lees nie. Wat dit nog moeiliker maak, is dat ons nie die Hebreeuse gedig verstaan nie, en daarom lees die vertaling vir ons meer soos ‘n koerantberig. En wat is die opskrif van die koerantberig? “Ramp tref bekende”. Of: “Ryk man verloor álles!”
Tog, hoe meer jy lees, hoe meer begin jy jouself met die karakter identifiseer. Dit kon net sowel jou storie gewees het! En dit is presies wat die boek Job doen: dit ís jou storie! Dit is die mens se storie. Dit is die storie van ‘n mens wat swaarkry. Maar, waar ‘n kwaaddoener sy swaarkry verdien, is die swaarkry hier van iemand wat “onberispelik geleef het.” Hy was ‘n “man met integriteit”. “Hy was lief vir God, en hy het verkeerde dinge gehaat” (aldus Job 1:1).
Die vraag waarmee hierdie boek ‘n mens konfronteer, is juis dit: hoe is dit moontlik dat God kan toelaat dat ‘n Godskind, ‘n goeie mens, soveel lyding ervaar? En dit leer ons dan: Lyding is so deel van menswees soos wat goed-gaan ook is. LYDING IS DUS VREUGDE SE TWEELING. Maar – soos die bekende skrywer, Philip Yancey, skryf – “When suffering happens, it forces us to confront life in a different way than we normally do.”
GEBED: Hoe wil U my in tye van lyding nuut vorm, Here?
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van VOCES8 se uitvoering van die komponis Purcell se lied “Hear My Prayer, O Lord”.