Die aanhaling waarmee #Job 2 begin het, was onvolledig. Dit is wat ons gereeld met ‘n teksvers maak: ons haal dit aan wat vir ons gepas is. Sonder om te kyk na wat verder staan: “Sonder iets het ek in die wêreld gekom en sonder iets gaan ek daaruit. Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” (Job 1:21)
Timoteus herhaal dit bykans woord vir woord: “Godsdiens is ‘n groot wins as iemand tevrede is met wat hy het, want ons het niks in die wêreld ingebring nie; ons kan ook niks daaruit wegneem nie” (1 Tim 6:6-7). Ons gebruik die grootste deel van ons lewens ons energie om op te gaar, net om dan weer te moet leer om met leë hande te leef. Jesus leer dieselfde: “Maak vir julle skatte in die hemel bymekaar, waar mot en roes dit nie verniel nie en waar diewe nie inbreek en dit steel nie. Waar jou skat is, daar sal jou hart ook wees” (Matt 6:10-21).
Die laaste woorde van Job 1:21 kan ek net nie ophou lees nie: “Die Here het gegee en die Here het geneem. Prys die Naam van die Here.” Vir my en jou klink dit dalk soos woorde uit die Begrafnisformulier. Nie vir Job nie! Vir hom is dit ‘n geloofsbelydenis. Dit is sy “ongeag”-loflied! Dit is sy anker in ‘n ruwe storm. Dit is die “noord” op sy lewenskompas. JHWH: Ek is. Here.
Sonder twyfel kan jy hierdie woorde – “Prys die Naam van die Here” – net as vertroosting ken as jy die Een agter die Naam ken. En Job het! Daarom kon hy sekerlik – al was dit tussen trane deur – sing: “As die lewenstorme woedend om jou slaan / En jy gans ontmoedig vrees om te vergaan / Tel jou seëninge tel hul een vir een / En jy sal verbaas wees oor wat God verleen.
GEBED: U seën is my behoud in opdraande tye.
MUSIEK:
Ons luister na Carike Keuzenkamp se weergawe van “Tel Jou Seëninge”.