Satan het van die toneel verdwyn. Op die verhoog verskyn drie nuwe name: Elifas, Bildad en Sofar. Van ver af kom hulle om hul vriend te troos, maar hoe troos jy as die pyn te swaar is. Vir sewe dae sit hulle net by Job, swygend (Job 2:11-13). En dan begin Job (in Hf 3): Waarom? Waarom? Ses maal: waarom? Die lewe het vir hom alle betekenis verloor!
Wil jy nie ook huil as jy hierdie hoofstuk lees nie! Ek wil! Ek wil huil vir elke vrou, man en kind wat moet skuil in bomskuilings. Ek wil huil oor elke ouer wat die lewelose liggaam van hul kind uit puinrommel moet haal nie. Ek wil huil oor verminkte diere. Ek huil oor ontheemde mense. Oor mense met doodsheid in hul oë. Hoeveel “waarom’s” moet ons nóg vra!
Dalk moes Job se vriende maar net bly swyg het. Maar ken ons dit nie self hoe ons goedbedoelde raad soms dieper sny as wat die skerpste lem nie eers kan bykom nie. Dit is wat Elifas met Job doen: jy móét die skuldige party wees, Job! Wat oor jou gekom het, is deur jou eie toedoen. “Ellende kom nie sommerso uit die grond uit op nie, swaarkry skiet nie sommer uit die aarde uit op nie,” gaan Elifas voort (5:6).”Jy moet nie die bestraffing van die Almagtige verontagsaam nie” (v17).
Wat Elifas sê klink so mooi: “Dit is Hy wat wonde toedien, maar Hy verbind hulle
weer, wat seer slaan, maar Hy maak weer met sy eie hand gesond” (v18). Maar,
hiermee impliseer Elifas dat God agter die pyn sit. God is die wreedaard wat agter al
ons ellende sit. En dit is tog nie waar nie!
Dankie tog dat Job nie hierdie raad wou aanvaar nie! Sulke raad dryf mense eerder
weg van God af as in die arms van God in.
GEBED: Ek weet dat U heel maak, Here, selfs al is dit nie U wat die wonde toedien nie.
MUSIEK:
Op Vrouedag kyk ons na die musiekvideo van So Sterk Soos ‘n Vrou deur Dewald Wasserfall.
Uit die liriek: