Ek verstom my oor die toewyding van Job aan God! Behalwe dat hy herhaaldelik “vroom en opreg” genoem is, God gedien het, “en die kwaad vermy” het (sien bv Job 1:1), het hy selfs namens sy kinders brandoffers gebring, net vir ingeval hulle gesondig het (1:5). Die grootste rampe tref Job en herhalend lees ons: “Onder alles het Job nie gesondig of God iets verwyt nie” (1:22, ook 2:9-10).
Sondelose Job? Nee; Job was soos ek en jy: ‘n gewone mens. Hy ken (en erken) sy eie sondigheid, en daarom pleit hy – net soos ons – “Waarom vergewe U dan nie my sonde en vergeet wat ek verkeerd gedoen het nie?” (7:21) Maar, tot nou toe was Job nog oortuig daarvan – die fout het nie aan sy kant gelê nie. Die fout moes dus aan God se kant wees. (Soos ons seker almal al gedink het?)
Eintlik wou Job net ‘n maklike antwoord gehad het. Daar bestaan egter nie so iets nie! Eintlik wou Job, net soos sy vriende, net ‘n oorsaak-en-gevolg antwoord gehad het. Dít het jy verkeerd gedoen, dáárom het gebeur. Of, as jy …, dan sal …. Iemand het eenmaal gesê: as jy verstaan, dan kan jy beheer. Dit gaan Job etlike hoofstukke van worsteling neem voordat hy besef – die een ding wat jy nie gaan regkry nie, is ‘n “greep” op God.
Maar, dalk is dit een van die baie waardevolle lesse wat hierdie boek ons leer: hoe Job bereid is om eerlik met God te wees oor sy probleem. “Ek wil aan my klag vrye teuels gee en in my bitterheid praat. Ek wil vir God sê: Moet my tog nie skuldig verklaar nie, maak aan my bekend waarom voer U hierdie stryd teen my” (10:1-2).
As jy dalk vandag oor iets worstel, neem dit na God toe. Jy mag maar. Jy moet.
GEBED: Hoe maklik sal maklike antwoorde nie wees nie, Here. Maar U het ons vir meer beskore gemaak.
MUSIEK:
Ons luister vandag na “Job’s Defiance” deur Don Francisco.