#Job 30: God is in beheer

Die grootste les uit hierdie verhaal is dat God in beheer is; nie die bose of enige ander magte nie. Van die begin af is God die primêre karakter! Job leer die krag van God ken deur ‘n visuele reis terug tot by die oorsprong van alles. Die verstommende (ook vir my!) is die buitengewone kreatiwiteit en vreugde wat God put uit dit wat uit die vingerpunte van God lewe gekry het. Van die verste punt van die kosmos tot by die kleinste onsigbare selletjie.

Ek dink nou al dae lank daaraan dat Psalm 23 vir my ‘n digterlike opsomming is van die verhaal van Job. Dit is die almagtige Skepper wat ons herder is. Danksy die goedheid van die Skepper kom ons niks kort nie – selfs al voel dit vir ons soms so. Soos Job het Dawid (en ek en jy sekerlik ook) soms die belewenis gehad dat sy omstandighede hom gelei het tot by die “die dal van die skadu van die dood”.

Ons oorleef nie dan deur ons eie krag nie; ons oorleef omdat God by ons is. God loop voor en God loop agter. So vertroos God ons. Wanneer die lewe ons uitput, lei God ons na plekke van rus. Soos die uitnodiging lui: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee” (Matt 11:28).

“En Satan?”, sou ons kon vra. Satan is onderworpe aan God. Niks wat in die sfeer van die bose bedink of gedoen word is buite God se beheer nie! Ons kan vashou aan die belofte van 1 Kor 10:13: “Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, (sal) julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”

GEBED: U is my herder, my beskermer en my versorger. Aan U al die eer.

MUSIEK:

Ons luister na die pragtige verwerking en uitvoering van “Psalm 23 – Die Here Is My Herder” deur Marthie Nel Hauptfleisch.