#Job 31: Daar kom ‘n tyd

Dit is nie net Job wat hierdie lewensreise moet onderneem, waar die pendulum swaai tussen wanhoop en hoop nie. Die realiteit is dat nie alle verlies uitloop op vernuwing nie. Nie alle ontnugtering en lyding het ‘n mooi einde nie. Onlangs het ek die grusame nuusinsetsel gekyk met die beeld van ‘n erg verbrande dogtertjie op ‘n hospitaalbed in Gaza na nog ‘n bomaanval. Haar klanklose gille was gille ten hemele namens ‘n swygende wêreld. En dit laat my dink: hierdie tyd verlede jaar het ek op ‘n trap gesit voor ‘n woonkwartier in Auschwitz-Birkenau, Pole, met ‘n papiertjie in my hand waarop ek ‘n aanhaling neergeskryf het van ene Tadeusz Borowski: “Night. Night without end. No dawn comes.”

Dalk het jy, soos ek, gehoop dat ons maandlange reis deur die boek van Job ons nader aan antwoorde sou bring oor al die lyding in die wêreld. Waarom laat God dit toe?  Helaas, Job het nie antwoorde gekry nie, behalwe dieselfde antwoord as wat Jesaja eeue later sou kry: “As jy deur water moet gaan, is Ek by jou” (Jes 43:1). Dieselfde antwoord wat Jesus sou herhaal: “Niemand sal (julle) uit my hand ruk nie” (Joh 10:28). Dieselfde antwoord wat Paulus sou herhaal: “Niks kan ons van die liefde van God skei nie” (Rom 8:39).

Een geloofsbelydenis deel ons heelhartig met Job, wanneer hy verklaar: “Ek weet dat my Losser leef, uiteindelik sal Hy op die aarde triomfeer” (Job 19:25). Dit is ook die belofte waarmee die Bybel afsluit: “Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie” (Openb 21:4).

“Night without end. No dawn comes.” Nee. Daar kom ‘n tyd wanneer “daar nie meer nag (sal) wees nie” (Openb 22:5). Tot dan sal “die genade van die Here Jesus by almal wees” (Openb 22:22).

GEBED: Dankie dat U ons nie sonder ‘n belofte gelaat het nie, Here.

MUSIEK:

Ons luister na Jake Runestad se lied  “Let my Love be heard: deur die  VOCES8-koor.

Uit die liriek:

Angels, where you soar

Up to God’s own light

Take my own lost bird

On your hearts tonight;

And as grief once more

Mounts to heaven and sings

Let my love be heard

Whispering in your wings