Onthou jy hoe lank het ons, nadat die COVID-inperkinge reeds opgehef was, steeds gepraat van die sg. “nuwe normaal”. Die behoefte was groot: mag ons tog nie die lesse vinnig vergeet wat ons geleer het nie. Vir hulle wat die meeste verloor het – nie net besittings nie, maar veral die lewens van hul geliefdes – sal niks na die “ou normaal” kan terugkeer nie. Daarvoor was die prys te groot.
Die laaste paar verse (die sg. “naskrif”) van Job se lewe is ‘n teks wat heerlik in die mond van voorspoedspredikers kan lê: bly net getrou en God sal jou met dubbele goedheid en rykdom seën. As dit waar was, kon ons maar net sowel al die pynlike worstelinge gesystap het en direk na Job 42 geblaai het. Kyk net die dubbele rykdom wat Job ontvang het (v10 en v12). Met sewe seuns en drie dogters het die verhaal begin; en so eindig sy laaste jare dan weer (v13). Wat ‘n wonderlike nuwe normaal!
Maar is dit moontlik om so te dink? Sal Job ooit kan vergeet? Ek dink nie so nie. Die laaste verse wat ons oor Job lees, is dié van ‘n man wat radikaal anders optree as sy tydgenote. Hy laat sy drie dogters erf dit wat hul broers ook erf (v15). In Job se tyd was dit ongehoord. Maar, vir Job is dit ‘n “nuwe normaal”. Waarom? God het sy manier van dink verander.
Dalk help Job ons tog om na te dink oor lyding en beproewings en hoe ons daarop reageer. Geen materiële seëninge sal ooit ‘n “vol lewe, tot die einde toe” (v17) kan waarborg nie. Maar ‘n lewe geleef in die nabyheid van sy Skepper kan. Dit is nie Job se getrouheid wat die “beloning” gewaarborg het nie. Dit is God se getrouheid!
GEBED: “U troue liefde is meer werd as die lewe; daarom sal ek U prys” (Ps 63:4)
MUSIEK:
Die nuwe Afrikaanse Christelike Musiek Organisasie “Nuwe Lof” het pas saam met Stella die ongelooflike lied “Wat U Wil” vrygestel. Ons kyk na die liriek-video.
Die lied is deur Stella geskryf en vervaardig deur Louis Brittz by die Kerksondermure-ateljee.
Uit die liriek:
Ek word stil om te hoor wat U sê
Voed my siel laat U woord in my lê
Kom hou U hand oor my, ek wil doen wat U sê
Kom vorm my deur U vuur, wat U wil, wil ek hê
Ek gee oor, wil myself verloor
In U heerlikheid, wat U wil, wil ek hê
Met my hart wyd oop, van myself gestroop
Vir U heerlikheid, wat U wil, wil ek hê
Heil’ge Gees neem my nou in beheer
Voor U wil lê ek weer alles neer
Kom vul my met U krag, om te doen wat U sê
In liggaam, siel en gees, wat U wil, wil ek hê
Ek gee oor, wil myself verloor
In U heerlikheid, wat U wil, wil ek hê
Met my hart wyd oop, van myself gestroop
Vir U heerlikheid, wat U wil, wil ek hê