#Job 21: Die begin van ‘n nuwe begin

En dan kom God aan die woord!

Dit laat my dadelik dink aan hoe God aan Elia verskyn het. Elia, wat vir sy lewe vlug voor Isebel, bekla sy lot by God. Waarom laat God hierdie dinge toe terwyl hy wat Elia is net vir God wil dien? Dan kom God op die toneel: “Skielik was daar ‘n baie sterk wind wat die berg stukkend geruk en die rotse gebreek het voor die Here. Maar in die wind was die Here nie. Na die wind was daar ‘n aardbewing. Maar in die aardbewing was die Here nie. Na die aardbewing was daar ‘n vuur. Maar in die vuur was die Here nie. En na die vuur was daar ‘n fluistering in die windstilte” (1 Konings 19:11-12).

Soos Elia wil Job antwoorde by God hê! Hóé kan God ‘n Godsman met ál hierdie tref? As die Boek van Job as ‘n drama opgevoer sou word, het die gordyn nou vir Toneel 2 opgelig. Vanuit die krag van stormwind ruis die woorde: “Wie is hierdie een wat ‘n plan vertroebel met woorde sonder kennis? Omgord maar jou heupe soos ‘n man! Ek sal jou ondervra, lig jy My dan in” (Job 38:1, 2020-vert). Dit is ‘n direkte konfrontasie tussen Skepper en skepsel: “Waar was jy toe Ek die fondament van die aarde gelê het?” (Job 38:4).

Wat volg, is hoe God Job, en ons daarmee saam, terug neem na Genesis 1 en die skeppingsverhaal herhaal. Nou is dit nie in kriptiese vertellinge van Dag 1 tot Dag 6 nie; wat volg, is ‘n liriese gedig. Soos ‘n kunstenaar wat met die veelkleurigste gare ‘n asemrowende tapisserie borduur, ontvou die skeppingsproses voor ons. Sekerlik een van die mooiste hoofstukke in die ganse Bybel.

En so begin Job se reis om ‘n nuwe perspektief te kry op sy lewe!

GEBED: Here, ek loof U terwyl ek hierdie skeppingsverhaal lees! U is inderdaad die Almagtige God!

MUSIEK

Ons luister na “Creation Choral” deur  Hans Zimmer en Lorne Balfe vir hulle produksie The Bible.