Job se treurmares klink soms só bekend. Alles is futiel. Alles stuur op ‘n ramp af. Hoor net ons benoude uitroepe: oorbevolking … klimaatsverandering … groeiende armoede … siektes wat in laboratoriums geskep word … kunsmatige intelligensie wat die mensdom begin vervang. Hoef ek aan te hou?
Dit is net die mens wat met hul kop in die sand leef, wat hierdie dinge ontken! God het ons aan onsself oorgelaat. Dit is nou, as daar ooit ‘n God is? Alhoewel, daar verskil Job van ons; hy het nooit oor God se bestaan getwyfel nie. Hy het wel skerp teen God uitgevaar en allerhande beskuldiginge rondgegooi, soos: “Die aarde is oorgegee in die hand van goddeloses … As dit nie Hy is nie, wie is dit dan?” (Job 9:24 – 2020 vert). Inderdaad, vir die aarde is daar geen hoop nie! Dit is die 21ste-eeuse noodkreet, dan nie?
Maar, laat ons nie te vinnig by God se reaksie teen Job (en ons) beskuldiginge verby beweeg nie! In digterlike taal word God se heerskappy beskryf. Vergeet ons dan so vinnig dat net God “hoog bo elke mag en gesag (is), elke krag en heerskappy, en wat daar ook al sprake van mag wees, nie net in hierdie bedeling nie, maar ook in die bedeling wat kom” (aldus Ef 1:21).
God alleen het in die fynste besonderhede die skepping beplan, met maatband die afmetings bepaal, terwyl ons steeds vandag nog nie die grootsheid daarvan kan indink nie (Job 39:5-6). Niks bestaan toevallig nie; elke natuurelement word deur God beheer (v22-30). God het ‘n plan, selfs oor die “wette van die hemelruim, (en) die invloed daarvan op die aarde” (v32). Niks ontglip God se aandag nie.
Hierdie skepping en alles daarin behoort aan God. God beplan die gang daarvan. Van begin tot einde. Verstaan jy, Job?
Verstaan jý?
GEBED: Groot is U. U alleen!
MUSIEK:
Ons kyk na die musiekvideo van The Gesualdo Six se uitvoering van “Sub tuum praesidium” deur Brumel.