#Job 14:   Begeesterde vriendskap

Mooiweers-vriende; daarvan het ons almal baie. Genoeg kom-en-gaan-vriende ook. Natuurlik ook diegene wat jou altyd goed laat voel. Maar mag elkeen van ons daardie een spesiale vriend of vriendin hê wat bereid is om ons bewus te maak van ons afdwaalpaaie – selfs al wil ons dit nie hoor nie. Diegene wat ons só liefhet en juis daarom hulself nie blind hou vir ons foute nie. Elihu was so ‘n vriend. 

Die Hebreeuse naam “Elihu” is betekenisvol; want hierdie Elihu is nie net ‘n vriend van Job nie, maar hy is ook ‘n vriend van God. Sy naam beteken letterlik “my God is Hy”. Tot nou het Elihu net geluister, klaarblyklik uit respek vir die feit dat almal veel ouer manne is as hy (32:5), maar daar kom ‘n tyd dat stilbly bloot verkeerd sal wees. Daarom dring Elihu daarop aan: “Ek wil ook ‘n beurt hê om te praat, … my gees dwing my om te praat” (17-18).

Ons Afrikaanse Bybelvertaling skryf hierdie “gees” met ‘n kleinlettertjie; maar dit kan ook met ‘n hoofletter geskryf word. God is die een wat Sy Gees aan die mens gegee het (Gen 2:7). So word geskryf: “dit is die gees in die mens wat die mens insig gee, die gees wat van die Almagtige af kom” (32:8). 

Ek kan myself nie ‘n beter vriend/in voorstel as daardie een wat so intiem saam met God leef, dat die woorde wat van hulle af kom woorde kan wees “asof direk van God”.  Paulus het God op ‘n soortgelyke wyse geken en daarom kon hy sê: “Die Gees van God getuig saam met ons gees…” (Rom 8:16).

Wat Elihu gesê het, sal ons in die volgende dae nog na luister; maar wat ‘n voorreg vir Job om hierdie jong man in sy lewe te kon hê. Mag elkeen van ons vandag vir iemand ‘n Elihu wees.

GEBED: Dankie dat U Gees ook in my getuig en my gees aan U Gees kan herinner.

MUSIEK:

Ons kyk na die musiek video van “Ride the Storm”  deur die Judah Collective saam met Jane Evelyn.

Die groep skryf “Ride the Storm” is ‘n intieme reis deur die dieptes van depressie, self-twyfel en geestelike wroeging. Die opregte lirieke ondersoek die pyn en chaos wat dikwels met hierdie interne storms gepaard gaan. Tog, te midde van die duisternis, is daar ‘n kragtige boodskap van genesing en verlossing. “Ride the Storm” illustreer pragtig hoe volhardend die storm tot diepgaande groei en vernuwing kan lei, en moedig luisteraars aan om hul oë op te hef na die Here van die Leërskare en krag en hoop te vind in Sy onwrikbare teenwoordigheid.