Die Bybel is ‘n gevaarlike boek. Of, dalk moet ek sê, die Bybel in die verkeerde hande is ‘n gevaarlike boek. Waarom sou ek nou daaraan dink? Die vriende van Job laat my hieraan dink. Hulle wyshede is soms so poëties-mooi. As jy al die “mooi” versies onderstreep, sal daar werklik ‘n klompie juwele uit hul gesprekke met Job gevind kan word. Die probleem is dat ‘n mens enkele verse heeltemal uit konteks kan aanhaal, en dan beteken dit iets gans anders as wat dit oorspronklik bedoel is.
Kom ek gebruik ‘n baie banale voorbeeld: meer as 40 jaar gelede is my en my pa se regterbeen elk geamputeer a.g.v. ‘n motorfietsongeluk. In die tyd besoek ‘n tannie my tydens besoekure. “Ja, my kind,” probeer sy my moed inpraat, “sê die Bybel nie vir ons dat as iets jou pla moet jy dit afkap nie?” Ja, en selfs meer: “Dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel beland” (Matt 5:29-30). Sy haal ‘n teks woordeliks aan, maar die konteks maak van dit ‘n leuen; want Jesus praat van kuisheid, glad nie van ‘n ongeluk nie.
En so is dit om ‘n enkele teksvers daagliks uit ‘n hoofstuk te gebruik en dit nie in ‘n breëre verband te lees nie. Vanaf Job 3 – 31 gooi Job en sy drie vriende wyshede heen-en-weer. Hul teologie is nie alles verkeerd nie, maar min daarvan is reg. Hulle gee vir mekaar maklike antwoorde wat goed klink, maar wat nie God se hart reflekteer nie.
Maar doen ons nie presies dieselfde nie? Ook ons sien net ten dele. Daarom het elkeen van ons soms ‘n Elihu nodig (vanaf Job 32). Môre stel ons hom aan die woord.
GEBED: Beskerm my daarvan, Heilige Gees, om my eie halwe waarhede te glo!
MUSIEK:
Ons kyk vandag na ’n liriek-video oor Job uit die “Bybel-simfonie” projek van die groep “Spearheads of God”.