INSTRUCTIO #8: ‘n Lewe gegrond op Hemelse Gesag

12 Mei 2025
I NSTRUCTIO #8: ‘n Lewe gegrond op Hemelse Gesag

> Vreeslose dissipelskap
> “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. … En onthou: Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (Matt 28:20, 22)

Sou ons lewens dalk anders wees as ons vreesloos en onverskrokke die mag en die krag van Christus vertrou? Sou ons dalk meer risiko’s neem? Ek dink ons sou – as ons werklik glo dat niks van ons eie vermoëns afhanklik is nie. As ons glo dat hemelse gesag selfs ons aardse lewens vergesel.

Tog, hier is die versekering: ons doen niks alleen nie; en ons doen niks kragteloos nie. Die vraag is, leef ek met vaste vertroue in hierdie gesag? Laat dit my toe om met vrymoedigheid op te tree? Beleef ek myself gepantser deur Goddelike teenwoordigheid?

Dit is een van die pilare van ons geloof: Jesus is in Sy Gees teenwoordig, elke tree van die pad. Daarom kan ons met innerlike sekerheid leef, die waarheid met geloofwaardigheid oordra, en getrou bly – selfs in moeilike tye.

Ware dissipelskap is nie net ’n opdrag nie; dit is ’n lewende verhouding met die Koning van alle konings. Maar, dissipelskap vra nie volmaaktheid nie, slegs vertroue.

Begin vandag eenvoudig: Wees sensitief vir Sy stem. Doen wat jy weet reg is. En moenie vergeet nie: Jy stap nooit alleen nie.

IN JOU GEBED vra God dat jou vertroue sal toeneem om vreesloos vanuit God se gesag te leef.

*****

VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
Daar is drie gedeeltes wat jy kan lees wat hierdie woorde van Jesus in Matt 28:18 en 20 versterk:
* 2 Timoteus 1:7
* Filippense 4:13
* Efesiërs 3:21-14
‘n Refleksievraag: Wat beteken dit – op alle vlakke van jou lewe – dat alle mag aan Christus behoort?

*****

VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

Die belofte van Christus van immer-teenwoordigheid maak hierdie keuse van John Rutter gepas vir vandag. Dit word genoem “Clare Benediction.” Die lirieke verskyn in die video. Mag die musiek jou seën terwyl jy dit met oop hande ontvang.