INSTRUCTIO #10: WAAR LÊ JOU PRIORITEIT?

14 Mei 2025
INSTRUCTIO #10: WAAR LÊ JOU PRIORITEIT?

> Lewe Koninkryk-Gefokus
> “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God.” (Matteus 6:33)

Hierdie opdrag van Jesus is die kompas van ons lewens: alles wat ons doen moet gerig wees op die uitbreiding van die Koninkryk van God. Wat beteken dit in die praktyk? Dit is ‘n leefstyl waar liefde, vergifnis en versoening kenmerkend is. Te midde van wêreldse koninkryke waar mag en kompetisie, onderdrukking en selfverryking onvrede tussen mense skep, bied God ‘n alternatief waar mense mekaar dien.

Ons mag nooit vergeet nie – alle aardse koninkryke is verganklik – nie eers die Romeinse Koninkryk wat eens die wêreld met ‘n ysterhand regeer het, is steeds in beheer nie. Daar is net een koninkryk wat nie verganklik is nie, en dit is God s’n. Daagliks illustreer God ‘n ander moontlikheid van leef deur mense wat aktief daaraan werk om bitterheid en wrokkigheid te laat vaar. Kyk mooi om jou rond; kyk verby die oorloë; kyk verby al die vyandigheid en verdeeldheid; kyk mooi, dan sal jy mense sien wat radikaal anders leef, want hulle is die mense wat hul medemens dien. Kyk mooi, en jy sal sien dat daar mense is wat opstaan vir wat reg is – selfs al moet hulle ‘n prys daarvoor betaal. Kyk mooi, daar is mense om jou wat hul hande en hul harte oopmaak vir die “weduwees en wese”. Kyk mooi, jy sal hulle oral om jou sien – dit is die Koninkryk van God.

Is jy een van daardie mense?

IN JOU GEBED – vra vir God om jou as ‘n koninkrykswerker in jou lewensfeer te gebruik.

*****

VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
Die Onse Vader Gebed loop hand-aan-hand met Jesus se opdrag in Matteus 6:33 . Bestudeer ook gerus die volgende teksgedeeltes:
· Filippense 3:20: Hierdie vers beklemtoon dat ons uiteindelike lojaliteit en identiteit in God se koninkryk lê, nie in aardse koninkryke nie.
· Lukas 17:20-21: Hierdie woorde van Jesus leer dat die koninkryk van God nie net ‘n toekomstige realiteit is nie, maar ook ‘n teenwoordige realiteit in die harte van gelowiges en in die manier waarop hulle leef.
Die vraag wat ons moet bedink, is: Hoe konkreet beïnvloed my lewe die uitbreiding van God se Koninkryk in die lewensfeer waar God my geplaas het?

*****

VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS :

‘n Pragtige weergawe van die bekende lied, “Soek allereers die Koninkryk van God”, word vandag gelewer deur die Tygerbergse Kinderkoor.