INSTRUCTIO #7: LIEFDE VERMENIGVULDIG ALTYD

9-11 Mei 2025 (Naweeknadenke)

INSTRUCTIO #7: LIEFDE VERMENIGVULDIG ALTYD

> Die DNA van Dissipels: Liefde in Beweging .
> “Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees, en leer hulle om alles te onderhou wat Ek julle beveel het.” (Matt 28:19-20a)

Jesus se laaste opdrag voor sy dood (in Joh 13:33-34) vra van ons net een ding: leef soos Jesus, want sy lewe was God se grootste bewys van liefde aan ‘n gebroke wêreld. Hierdie liefde is die onwrikbare grondslag van ons geloof, die kragbron agter alles wat ons doen.
Maar daar sou nog ‘n opdrag volg – die opdrag na Jesus se opstanding – waar Hy sê, “Gaan maak van ander wat Ek van julle gemaak het: dissipels.”

Wat is dissipelskap werklik? Dit is om mense te wys hoe om lief te hê soos Jesus dit gedemonstreer het.

Sien jy die verband? Jesus se intieme versoek in Johannes 13:34 (“Julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê”) en die dinamiese opdrag in Matteus 28:18-20 (“Gaan! Leef uitnodigend. Trek selfs vreemdelinge in die geloofsfamilie van God in. Leer hulle alles wat julle geleer is”*) is eintlik twee kante van dieselfde munt. Liefde is nie ‘n middel tot ‘n ander doel nie; dit is die uiteindelike doel self. Ons deel dit om die wêreld ‘n bietjie meer te laat lyk soos die hart van Jesus – een uitnodigende daad, een liefdevolle hart op ‘n slag.

( _* Dit is my eie woorde – in die volgende dae sal ons die volle teks behandel.)_

IN JOU GEBED, vra God om Sy liefde so oorweldigend vir jou te maak dat jy nie anders kan as om te wil gaan en vertel nie.

*****

VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:

* Dit is interessant dat die opdrag van God van die begin af ‘n “volk-in-beweging” was: mense moes hoor; al meer en meer mense moes hoor. Lees byvoorbeeld Genesis 12:1-3. Hoe is Matt 28:18-20 ‘n voortsetting van die opdrag om ‘n seën vir alle nasies te wees?
* Johannes 17:18-23 wys vir ons Jesus se diep begeerte wat agter sy opdrag van dissipelmaak lê. Hoe dra ons liefde vir mekaar by tot die dissipelmaak-proses?
* Laastens, lees ook Handelinge 1:8. Kyk net die omvang van die opdrag.

VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

Felix Mendelssohn het die pragtige aria, “Wie lieblich sind die Boten” geskryf. ‘n Adventlied waarin die engele as boodskappers geprys word. En tog is dit net so gepas van elke mens wat uitgaan om die Goeie Nuus te verkondig. In Afrikaans: “Hoe lieflik is die boodskappers wat die Boodskap van Vrede verkondig”, skryf Mendelssohn. Of in Engels, “How lovely are the messengers that preach us the gospel of peace.”