INSTRUCTIO #6: LAAT DIE DNA VAN GOD JOU LEI

8 Mei 2025
INSTRUCTIO #6: LAAT DIE DNA VAN GOD JOU LEI

> Liefde is ons DNA
> “Ek gee julle ‘n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê.” (Joh 13:34)

Jesus se Bergpredikasie (Matt 5-7) het kragtig afgesluit: ” Wees julle dan so volmaak soos julle Hemelse Vader volmaak is. ” As die wese van God liefde is, dan is liefde die meetinstrument van die volmaakte. Alles gaan oor liefde. Soos Jesus in sy laaste preek (Joh 13-15), ook sê, ” As julle My liefhet sal julle My opdragte uitvoer.”

Op die strand het Jesus vir Petrus gevra, “Het jy My lief, Petrus? Regtig?” Maar, hoe weet ‘n mens of jy Jesus regtig liefhet? Eenvoudig: ” As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is.” En, soos Petrus, sou ek moet antwoord, “Ai, Here… U weet, Here…”

As ek eerlik moet wees, voel dit makliker om Jesus lief te hê as om my medemens lief te hê. Maar dit is die kern van dissipelskap: Volg My. Kyk. Leer. Doen. Leer weer. Kyk … Want om lief te hê soos Jesus, beteken dat ons begin om soos God self te word – iemand wie se hele wese liefde uitstraal.

Ai, Here… U weet… Word die liefde wat ek vir U voel werklik deur my lewe weerkaats?

IN JOU GEBED – vra God om van jou ‘n weerkaatsing van God se DNA te maak.

*****

VIR DIE WAT MEER TYD HET VIR NADENKE:
 Om werklik die DNA van God te bestudeer kan jy Psalm 103 gaan lees – veral 8. Watter ander dade van God se goedheid en liefde word hier beskryf? Hoe demonstreer hierdie dade sy barmhartige en genadige natuur?
 Hoe word hierdie eienskappe van God se liefde in die persoon van Jesus Christus aan ons geopenbaar – lees bv. Romeine 5:8.
 Min teksgedeeltes praat so oor God se DNA soos 1 Johannes 4. Hoe beskryf Johannes die aard van God se liefde? Hoe word hierdie liefde in ons lewens veronderstel om sigbaar te word?

*****

VIR DIE MUSIEKLIEFHEBBERS:

‘n Lied wat die DNA van God se wese mooi besing is die “U Liefdeslied vir my” deur Louis Brits. In hierdie weergawe sing die Drakensberg se Seunskoor. Mag die eenvoudige melodie jou deur jou dag dra.