GOD IN DIE KANTLYN #1:

Die Naamlose Skakel

> ANKERGEDAGTE: God werk selfs deur die onwaarskynlikstes om Sy planne te vervul.

Soveel keer werk God vanuit die kantlyn – daar waar die “gesigloses” is; hulle wat nie in die kollig van die lewe staan nie. Die verhaal van Abraham se oudste slaaf in Genesis 24 is ‘n sprekende voorbeeld hiervan.

Hierdie verhaal hou direk verband met God se getrouheid om Sy belofte aan Abraham en Sara na te kom. En daarvoor moes ‘n vrou vir Isak gevind word. Wie word gekies om haar te soek? ‘n Naamlose slaaf. Kan jy jou sy benoudheid indink: wat sal Abraham doen as hy sonder ‘n vrou terugkeer? Hy pleit by God: ” Gee tog net ‘n teken, my Here, dat ek kan weet. ” (Sien vers 12-14). En voila! Daar is sy: Rebekka. ‘n Spontane gebed kom uit sy hart: ” Loof die HERE, … Die HERE het my op die regte pad gelei… ” (Gen 24:27).

Wie sou ooit kon dink dat God ‘n naamlose – vanuit die kantlyn – sou gebruik om ‘n skakel te wees in die verbondsvervulling van Hom? Tog, dit is hoe God werk!

Gebed: Here, open my oë vir U werk in die alledaagse, en lei my om U wil te gehoorsaam.

**************

DEEL B (vir diegene met meer tyd):

Genesis 24 vertel die verhaal hoe God se voorsienigheid onmiskenbaar teenwoordig was in elke stap van die proses om ‘n vrou vir Isak te vind.

Kruisverwysings vir verdere studie:

* Psalm 37:23-24 : Hierdie verse spreek van die Here wat die voetstappe van ‘n opregte mens rig en hom staande hou. Dit eggo hoe God die slaaf se pad gelei het.

* Johannes 15:5 : Jesus sê sonder Hom kan ons niks doen nie. Dit beklemtoon die afhanklikheid wat die slaaf van God getoon het en die noodsaaklikheid van God se hand in ons lewens.

Filippense 2:5-7 : Alhoewel dit oor Christus se nederigheid gaan, kan dit ons herinner aan die diensbaarheid van die slaaf, wat sy eie belange opsy gesit het om sy meester se opdrag uit te voer en uiteindelik God se plan te dien.

MUSIEK VAN DIE DAG:

Die “Oslo Gospelkoor” is ‘n Noorweegse koor wat reeds met gewilde sangers soos Plácido Domingo opgetree het. Hier sing hulle ‘n lied wat mooi inpas by vandag se tema: “ God will make a way .”