GOD IN DIE KANTLYN #2
Goddelike Talente in Aksie
ANKERGEDAGTE: Elke gawe, hoe ongesiens ook al, is ‘n goddelike aanraking wat God se koninkryk opbou.
Da Vinci, Van Gogh, Picasso. Beethoven, Mozart, Rachmaninoff. Hierdie genieë, geseën met gawes, sal nooit vergete raak nie. En Besaleël en Oholiab. “Wie?!” Twee langvergete ambagsmanne, met die opdrag om die tabernakel te bou. Maar wat maak hulle besonders? Eksodus 31:3-5 sê hulle is “… met die Gees van God vervul, met wysheid, insig, kennis en vaardigheid in elke soort handwerk, om ontwerpe te maak en uit te voer …”
Vir elke taak – hoe gering ook al – gebruik God mensehande. Soos die bakker wat met haar perfekte baksels beskuit die pot aan die kook hou. Ouma wat truitjies brei vir die arm buurt se kindertjies. Die musikante wat die gemeente Sondae help sing. Die werktuigkundige wat die motor herstel. Ons sien dalk net die bekendes raak, maar weet beslis: elke mens is ‘n onmisbare medewerker in God se koninkryk.
God gebruik ons almal. Hierdie werk is nie beperk tot net die kerk nie, maar strek na elke faset van ons daaglikse bestaan. Met die gawes en talente wat jy ontvang het, leef tot eer van Sy Naam!
Gebed: Hemelse Vader, open ons oë vir U hand in ons alledaagse gawes.
************
DEEL B (vir diegene met meer tyd):
Die verhaal van Besaleël en Oholiab, soos gevind in Eksodus 31:1-11; 35:30-35; 36:1-2 , beskryf hoe God spesifieke individue toegerus het om die tabernakel te bou. Dit beklemtoon God se aandag aan detail en Sy waardering vir kuns en vakmanskap in diens van aanbidding.
Kruisverwysings vir verdere studie:
* 1 Korintiërs 12:4-11: Hierdie gedeelte onderstreep die beginsel dat alle ware gawes van God kom.
* Romeine 12:6-8: Fokus op die praktiese toepassing van gawes in diens van ander binne die gemeente. Dit moedig aan tot ywer en toewyding in die uitlewing van die gawes wat ons ontvang het.
* Efesiërs 2:10: ‘n Kernteks wat ons direk aan God se goddelike plan verbind.
MUSIEK VAN DIE DAG

