“Daar is geen god soos U nie, Here, niks kan met u werk vergelyk word nie. … U is groot en doen magtige dade, U alleen is God” (Psalm 86:8-10).
Grootheidswaan staan altyd as ‘n struikelblok in die pad van selfontdekking. In Engels praat ons van ‘n “delusion of grandeur.” Dit is wanneer jy onder ‘n wanindruk verkeer van jou eie belangrikheid. Die ander woord wat ons daarvoor ken, is “megalomania” – hier is twee Griekse woorde bymekaar gevoeg, naamlik groot en gekkigheid. Deur die eeue is vele volkere gelei deur mense met grootheidswaan. Die ironie is dat ook húlle, die selfgemaakte godjies, een of ander tyd onttroon word – ten spyte van hulle magsvertoon en grootpraat.
Ek leer ‘n ander leier in die Bybel ken – Dawid. Homself noem hy “hulpeloos en arm” (Ps 86:1). Want, Dawid het geweet, daar is net Een wat werklik groot is. Die Verbondsgod. Die Skepper van die heelal. Wie kan met hierdie God vergelyk word? En tog, hoor net: “U, Here, is ‘n barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (Psalm 86:15). Die deernisvolle God.
Dan kom die mooiste woorde wat ek en jy seker elke dag kan saambid: “Maak my ‘n voorbeeld van u goedheid” (v17a). Nie “maak my groter” nie. Nie “laat meer mense tog deur my begaafdhede beïndruk word” nie. Slegs dit: maak my ‘n voorbeeld van hoe U is.
GEBED: Ek bid ook vandag, maak van my lewe ‘n voorbeeld van goedheid, sodat mense in my gedrag U kan leer ken.——
MUSIEK:
Die komponis van “You alone are God”, Mary McDonald, is ‘n bekende in die wêreld van kerkmusiek. Sy was ‘n gesogte dirigent en ook pianis en het 1 200 musiekstukke komponeer.
In die video is die bladmusiek met die lirieke vir jou om te volg.