“As ons lewe, leef ons tot eer van die Here; en as ons sterwe, sterf ons tot eer van die Here. Of ons dan lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here” (Rom 14:7-8).
Die slotwoorde van Bonhoeffer se gedig – “Whoever I am, thou knowest me; O God, I am thine!” – het my dadelik aan die Heidelbergse Kategismus (HK) laat dink. Dalk onthou jy uit jou katkisasiedae wat die antwoord was op die heel eerste vraag: “Wat is jou enigste troos in lewe en in sterwe?” Presies soos Paulus (in Rom 14:7-8) leer: “Dat ek met liggaam en siel in lewe en in sterwe nie aan myself nie, maar aan my getroue Verlosser, Jesus Christus behoort.”
Sielkundiges leer ons dat een van ons grootste begeertes is om te weet dat ons behoort. Ons hele lewe streef ons daarna om ‘n plek te hê waar ons onvoorwaardelik onsself mag wees. En so soek ons goedkeuring van plek tot plek, en van mens tot mens. Vandaar ook ons groot vrees vir verwerping. Tog is daar net een plek waar daardie begeerte vir aanvaarding onvoorwaardelik tot rus kan kom: by God. Dit is ons troos!
Die Engelse woord vir troos is “comfort.” Dit kom van ‘n ou Franse woord – “fortis” – wat “sterk” beteken. Presies soos ‘n hoë muur ‘n stad versterk, so veilig is ons by God. Vertroosting en vertroue loop dus hand-aan-hand.
Ons sal altyd met ‘n identiteitskrisis leef as ons nie ons identiteit by God leer ken nie. Soos God is, so is jy bedoel om te wees. Tot môre…
GEBED: Dankie dat ek nie ver hoef te soek om by U veilig te wees nie, getroue God.
MUSIEK:
Die musiekkeuse vir vandag is geskryf deur Norman Jay Clayton (1903-1992). Hy is gebore as die 9de van 10 kinders in Brooklyn, New York. As begaafde musikant was hy reeds ‘n orrellis op 12 jarige ouderdom, maar hy was veral ook as trompet-speler bekend.
Die lirieke vir “Now I belong to Jesus” verskyn in die video.