Ek is … 6 Feb.

“Laat my by U ‘n blywende tuiste vind. Laat my skuil onder u vleuels” (Ps 61:5).


As jy jouself wil ken, moet jy God leer ken. Menswees impliseer dat jy “soos God” is; beeld van God (aldus Gen 1:27). Allermins beteken dit dat jy God self is. Een van my gunsteling teoloë, Thomas Merton, het so hieroor geskryf:
“To say that I am made in the image of God is to say that love is the reason for my existence, for God is love. Love is my true identity. Selflessness is my true self. Love is my true character. Love is my name.”

Alles wat nie liefde is nie, is sonde. Sonde is om te vergeet wie jy is en waar jy veronderstel is om te wees; dit is om te vergeet hoe jy bedoel is om te wees. Ons is geskep om in ‘n verhouding met God te leef. Ons plek is by God. Daarom is dit so betekenisvol dat, wanneer Adam en Eva vir God wegkruip (m.a.w. hul plek by God verlaat), God al soekend uitroep: “Waar is jy?” (Gen 3:9). Sonde (m.a.w. om nie as beelddraer van God te leef nie) is om mens-in-die-varkhok te wees, terwyl ware menswees net vanuit die arms van die Vader geleef kan word. (Aldus die gelykenis van die verlore seun in Luk 15:11-32).

Dit is wat Paulus bedoel het toe hy met die Ateners oor God gepraat het. Hoor net: “God het (ons) gemaak om Hom te soek, al sou (ons) ook moes rondtas om Hom te vind. Hy is nie ver van enigeen van ons af nie, want deur Hom lewe ons, beweeg ons en bestaan ons (Hand 17:27-28).

Verstaan jy dit, dan verstaan jy Dawid se gebed: “Wees U my blywende tuiste.”

GEBED: Ek antwoord as U ook vir my roep, “Waar is jy?”


MUSIEK:

Die musiekkeuse val vandag op ‘n lied gekomponeer deur William Kirkpatrick. Ongelukkig weet ek nie wie die Australiese solis is nie. Dit word geplaas op die platform: “Songs and Everlasting Joy.” Die lirieke verskyn in die video.