“As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink!” (Joh 7:37)
Hoe kon die Israeliete telkens wou terugkeer na ‘n lewe van slawerny die oomblik wanneer dinge swaar gaan? God verruil vir afgode? In 1 Kor 10:1-11 skryf Paulus, God het die Israeliete versorg met “geestelike voedsel” (v3 – manna) en met “geestelike drank: Hulle het gedrink uit ‘n geestelike rots wat met hulle saamgegaan het. Die rots was Christus” (v4).
Genade-water word die Israeliete by Refidim aangebied (in Eks 17). Genade-water bied Jesus die Samaritaanse vrou by die put aan. “Elkeen wat van hierdie (gewone) water drink, sal weer dors kry, maar wie van die water drink wat Ek hom gee, sal tot in ewigheid nooit dors kry nie. Die water wat Ek hom gee, sal in hom ‘n fontein van water word wat opborrel tot die ewige lewe” (Joh 4:13-14).
In Joh 7:37-39 lees ons hoe Jesus hierdie uitnodiging weer rig: “As iemand dors het, laat hy na My toe kom en drink! Met die een wat in My glo, is dit soos die Skrif sê: Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.” Daarmee het Jesus na die Gees verwys wat ons in geloof ontvang.
Kan jy sien hoe die Drie-Enige God hier te werk gaan: JHWH (“EK IS”) gee die water uit die rots by Horeb (Eks 17:6). Christus is die rots; daarom kon Jesus eeue later sê: “ EK IS die lewende water.” En die “Gees van die lewende God” (2 Kor 3:3) is die Gees wat ons lewend maak (v6).
Dit laat my aan Jan de Wet se kleuterliedjie dink met die refrein: “dit borrel, dit borrel, dit borrel, dit borrel, dit borrel, dit borrel in my, in my.”
Want, DIT IS WIE EK EN JY BEDOEL IS OM TE WEES:
borrelend vol lewende water vir elke dorstige wat ons pad kruis.
GEBED: Maak my vandag vir iemand ‘n beker water, Here.
MUSIEK
Met diep gevoel en pragtige harmonieë bring die Universiteit van Johannesburg Koor vir ons Die Here Is My Herder – ‘n tydlose toonsetting van Psalm 23. Hierdie lied weerspieël ‘n boodskap van vrede, vertroue en God se voortdurende teenwoordigheid in ons lewens. Deur hul suiwer stemme en kragtige interpretasie, herinner hierdie uitvoering ons daaraan dat ons nooit alleen is nie. Maak jou hart oop vir hierdie heilige klanke en laat die musiek jou siel versterk.