#Ek is … 27 Feb.

“Net soos die Vader My ken en Ek die Vader ken; lê (Ek) my lewe af vir die skape.” (Joh 10:15)


Dwarsdeur die Ou Testament loop die refrein: “Barmhartig en genadig is die HERE (JHWH), geduldig en oorvloedig in troue liefde” (Psalm 103:8, 2020-vert). Met hierdie getuienis sluit Dawid sy Psalm 23 ook af: “U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly” (v6). Dit is wie die HERE (JHWH) vir hom is: die goeie herder. Die Een wat rus bied; nuwe krag gee; vrede voorsien. Die Een wat saam met hom deur die donker dieptes gaan. Die gasvrye Een. In hierdie Herder se hande is Dawid veilig.

Juis daarom was soveel mense so woedend toe Jesus (twee maal) sê, “ EK IS die goeie herder ” (Joh 10:11, 14). Dit is mos laster. Daar is net een “EK IS…” Die Verbondsgod. Maar Jesus gaan selfs verder; drie maal voeg Hy by: “Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape” (v11, 15, en 18). Dit is wat JHWH beteken: “ EK IS wat Ek doen .” En hier vertel Jesus wat Hy gaan doen: hy sal die offer word. Hy sal sy lewe prysgee, want dit is wat ‘n herder vir die kudde-wat-hy-liefhet sal doen.

Is dit nie fassinerend nie – wanneer Jesus vir Petrus op die strand ontmoet (In Joh 21:15 e.v.) ruil Jesus rolle met Petrus. Wat Ek vir julle gedoen het (uit liefde my lewe vir my kudde opgeoffer het), dit moet julle nou doen. Daarom vra Jesus drie maal: “Het jy my lief, Petrus?” En drie maal hoor Petrus: “Laat my lammers wei” (v15); “Pas my skape op” (v16), en “Laat my skape wei” (v17). Wees vir die kudde ‘n goeie herder, Petrus. Maar wees die soort herder wat bereid is om sy lewe vir sy roeping op te offer, Petrus (v18, 19).

Wie is ek en jy? Die antwoord lê in die vraag, “Het jy My lief?”

GEBED : Het ek U lief, Here? U weet alles!


MUSIEK

Die Walliese Katedraalkoor sing vandag se weergawe van Psalm 23. Dit is die bekende gesang gekomponeer deur Howard Goodall, ‘n Britse komponis en radiopersoonlikheid.