Ek is … 25 Feb.

“Ek soek U, o God, my God, ek dors na U; ek smag na U soos in ‘n dor en droë land, ‘n land sonder water. ” (Ps 63:2)


Die opskrif van Psalm 63 verduidelik alles: “’n Psalm van Dawid, na aanleiding van sy verblyf in die Judawoestyn.” Hoe groot is ‘n mens se dors in waterskaarste? So dors soos “’n wildsbok smagtend na waterstrome” (Psalm 42:1). So dors soos die Israeliete (in Eksodus 17:1-7), wat kamp opslaan na ‘n dagreis deur die woestyn. Moses kon dalk water uit ‘n rots laat stroom, maar steeds les ‘n glas water die oomblik se dors; die probleem is, ons word weer dors. En weer dors.

So is ons geestelike dors. Daarom skryf Augustinus van Hippo (5de eeu n.C.): “God het ons vir homself gemaak, en ons harte sal rusteloos bly, totdat ons in Hom rus vind.” So rusteloos soos ‘n dorstige dier wat water ruik, so moet ons smagting na God wees.

Is ek vandag só smagtend soos Dawid, dat dit by my ‘n dringende begeerte is om elke oomblik van die dag bewustelik in God se teenwoordigheid te leef?

Ek lees ‘n aanhaling van C.S. Lewis en dit laat my dink: “It would seem that Our Lord finds our desires not too strong, but too weak. We are half-hearted creatures, fooling about with drink and sex and ambition when infinite joy is offered us, like an ignorant child who wants to go on making mud pies in a slum because he cannot imagine what is meant by the offer of a holiday at the sea. We are far too easily pleased.”

As iemand vandag vir my moet vra, wie is ek regtig, wonder ek of ek – soos Dawid – sou antwoord: “EK IS … smagtend na God”?

GEBED: Heilige Gees, beskerm my tog daarvan dat ek my innerlike smagting op ‘n ander plek as by U sal laat stil word.


MUSIEK

Ek hoop dat jy vandag se musiek oor jou sal laat stroom soos ‘n salwing. Die lied se naam is “Awit ng Paghahangad”. In Tagalog (een van die Filippynse landstale) beteken dit, “U is my begeerte.” Dit is ‘n verwerking van Psalm 63. Die Engelse lirieke verskyn onder aan die video.

Dit is gekomponeer deur die Filippynse teoloog, Charlie Cenzon; en die solis is Jep Go.