“Ek is saam met Christus gekruisig, en nou is dit nie meer ek wat lewe nie, maar Christus wat in my lewe.” (Gal 2:19-20 )
As jy ook Hamlet van Shakespeare in matriek moes lees, sal jy onthou hoe Koning Claudius se eerste minister, Polonius, vir sy seun wat op pad universiteit toe is, sê, “To thine own self be true.” M.a.w., moenie leef soos ander jou voorskryf nie. Wees jou eie mens. Moenie ander na-aap nie; ontdek jou uniekheid.
Nie net soek mense elk hul eie identiteit nie; kulture doen dit ook; selfs besighede, ook spesifieke periodes in die geskiedenis. Dit is daardie eiesoortigheid wat ons andersoortig maak. Vir hierdie dinge is ons soms selfs bereid om ons lewens op te offer.
Die ironie is dat Paulus hierdie soeke na ons eiesoortigheid en afbakeninge van ons andersoortigheid afmaak as waardeloos. Volgens hom is daar net een identiteit wat van belang is (as jy ‘n volgeling van Jesus is), en dit is om die identiteit van Jesus Christus as jou eie te neem.
Alles wat hom voorheen uitkenbaar gemaak het (bv ‘n Jood/Fariseër), ontdek Paulus, is net ‘n klug. Dit sê net een ding – hoe hy verlore was. Daardie dinge wat ons so waardevol ag – taal, kultuur, politiek, status, wat ook al – kan ons nie verlos nie. “Wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus, ja, nog meer: ek beskou alles as waardeloos, want om Christus Jesus, my Here, te ken, oortref alles in waarde” (Fil 3:7-8). Sterf dit af. Dit is die geheim van die evangelie: deur afsterwe kom lewe.
Polonius was verkeerd, dit is nie “To thine own self be true” nie, dit is “In Christ alone is truth.” Sonder Jesus Christus IS EK NIKS; EN HET EK NIKS!
Daarin lê my identiteit.
GEBED: Mag niks ooit U waarde in my lewe oorheers nie, Here Jesus.
MUSIEK
Ek het onlangs eers die mooi stem van Michael Lining ontdek. Met ‘n Meestersgraad in Kerkmusiek is hy nie net ‘n sanger, pianis en trompetspeler nie, maar ook ‘n musiekvervaardiger. In vandag se musiekkeuse sing hy ‘n bekende lied, “Just as I am.”