#Ek is … 17 Feb.

“Deur die doop is ons immers saam met Hom in sy dood begrawe, sodat, soos Christus deur die wonderbaarlike magsdaad van die Vader uit die dood opgewek is, ons ook so ‘n nuwe lewe kan lei.” (Rom 6:4)


Ek wonder of jy al ooit gesien het hoe ‘n Ortodokse priester ‘n baba doop? Eers word die baba, kop onderstebo, tot by die borsie onderdompel, dan omgetiep en kom die onderlyfie aan die beurt. Driemaal. Wanneer die priester die sopnat baba in ‘n handdoek toedraai – eers dan – kry die baba kans vir ‘n groot asemskep en ‘n harde huil. Deurentyd hou jy self asem op; en skep jy eers daarna ook asem. Dankbaar.

Dit is daardie diep asemteug wat my aan Rom 6:4 laat dink in ons nadenke oor die vraag, wie is ek. Wie? Ek is onderdompelde. Die sonde is afgewas. My ou mens is dood. Die nuwe mens word uit die water gelig – “‘n wonderlike magsdaad van die Vader” noem Paulus dit. Soos ‘n baba daardie longetjies vol asem intrek, so doen ons dit. Ons leef! Vernuwe.

Ek wonder, maak jou doop (al was dit dalk ‘n halfeeu of meer gelede) soveel verskil in jou lewe dat dit jou skuilplek bied? Dit behoort. Daar word vertel dat Martin Luther groot aanvegtinge van die bose as jong priester beleef het. Nag-na-nag het hy in slaaploosheid deurgebring soos hy gebid en gepleit het. Eendag het sy geloofsbegeleier hom hierdie raad gegee: as die bose jou weer teister, antwoord net: “ Ek is ‘n gedoopte. Ek behoort aan Christus Jesus.”

Hoeveel maal kasty skuldgevoelens ons nie. Of twyfel. Of die kommer en angs van menswees. Roep jy dan ook uit, “Ek is ‘n gedoopte!” Niks van die oue maak saak nie. Niks kan met my gebeur waarvan God nie weet nie. Ek behoort aan Christus Jesus.

GEBED: Ek loof U vir U wonderlike magsdaad, Skepper van nuwe lewe.


MUSIEK

Ek het op ‘n pragtige, eenvoudige dooplied afgekom: “Step by Step”. Dit is ‘n lied wat ‘n ma (Angie Killian) vir die doop van haar seun geskryf het. Die name van die kinders wat sing verskyn in die teksgedeelte geplaas saam met die video. Die woorde verskyn in die video.