“Iemand wat aan Christus behoort, is ‘n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom.” (2 Kor 5:16-17)
*
Ek kan nie aan ‘n wonderliker belofte in die Bybel dink as hierdie een (in 2 Kor 5:17, en ook in Gal 6:15) nie: God het nie moed opgegee met ons nie. God begin oor-en-oor weer. God was dus nie net aan die begin Skepper van alles nie; God is steeds en aanhoudend aan’t skep. Ons is die bewys daarvan. Wanneer God ons nuut maak, is dit nie net blink poleer nie; en allermins gelap-en-gestop. God is herskepper.
Wat wel ook waar is, is dat ons altyd “in wording” is – God maak ons nuut, maar gee dan aan ons die die opdrag om “onder nuwe bestuur” te bly (aldus Gal 5:16). Waarom? Omdat ons vashou aan ons geneigdheid om op ou patrone terug te val. Ai tog, skryf Paulus: “Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here is julle lig. Leef dan as mense van die lig” (Ef. 5:8). Wees wie julle gemaak is om te wees!
Kan dit enigsins duideliker gestel word as in Ef 4:22-24, “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het; breek met die ou, sondige mens … Julle gees en gedagtes moet nuut word; lewe as nuwe mense wat as die beeld van God geskep is: lewe volkome volgens die wil van God en wees heilig.” Omdat ons uit die sondedood opgewek is, kan ons nou “elke deel van ons liggame in diens van God (stel) as werktuig om te doen wat God wil” (Rom 6:13).
Wie is ek?
Ek is… nie meer ‘n slaaf van sonde nie, maar ‘n vrygemaakte . Nie meer in die beskuldigdebank voor God nie, maar begenadigde deur Christus.
Gemaak om te leef!
GEBED: Dankie, Skepper-God, dankie dat U nie met my moed opgegee het nie, maar voortdurend in ‘n herskepping met my besig is .
MUSIEK
Die pragtige Gregoriaanse “Veni Creator Spiritus” word in hierdie verwerking in Latyn, afgewissel met Engels, gesing. Dit maak die bekende lied vir ons meer toeganklik.
DIe lirieke is in die video.