#Ek is … 13 Feb.

“Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie..” (Ps 14:3; Rom 13:12)


Op my rak staan ‘n boek, getiteld, “Aliens in the household of God.” Dit is ‘n titel wat my elke keer tot stilstand roep: is daar iemand vir wie ek dalk so laat voel, ‘n tweedeklas mens? Mense wat – soos Jeremia uitgeroep het (in Hfst 20:18): “Waarom het ek ooit uit die baarmoeder uitgegaan?” Waarom, is my lewe ‘n “fout”?

Wie ons is, word soveel keer aan valse standaarde gekoppel: wat ek doen, of waar ek bly, of hoe hoog ek op die (onsigbare) leer geklim het. Hierdie eksterne dinge vorm maklik ons identiteit. Maar Tish Warren (‘n Anglikaanse priester en skrywer) skryf in een van haar boeke: “Our lives can not be defined by our productivity or our achievements, but by the radical love that God has for us. Our purpose is to be loved, and from that love, to learn how to love others.”

Daar is geen mens op hierdie aardbol wat nie durf uitroep nie, “Ek is God s’n.” Ons weet tog: “Die aarde en alles wat daarop is, die wêreld en dié wat daar woon, alles behoort aan die Here” (Psalm 24:1).

Maar …

Ja, daar is ‘n maar! Soos Psalm 14:1 en Rom 13:12 sê: “Daar is nie een…” wat is wie hulle bedoel is om te wees nie. Sonde-rebellie het van elkeen van ons “Aliens in the household of God” gemaak. Sonde vervreem ons van God, en ook van mekaar.

Ek is … sondaar.
Ek behoort aan God … en tog leef ek nie so nie.
Ek is … nie wie U my bedoel om te wees nie.

GEBED: Hoe moet ek nie voor U kom bely nie, Here, ek is U eiendom; en tog leef ek nie so nie.


MUSIEK

Die Kyiv Kamerkoor voer ‘n 15de eeuse Ortodokse weergawe van die Kyrie Eleison (Here, vergewe) uit. Mag dit jou gees so aanraak soos myne.