“Barmhartig en genadig is die Here, lankmoedig en vol liefde. Hy sal ons ons sonde nie bly toereken en nie vir ewig toornig bly nie.” (Psalm 103:8-9)
Met hierdie woorde het gister se meditasie afgesluit:
Ek is … sondaar.
Ek behoort aan God … en tog leef ek nie so nie.
Ek is … nie wie U my bedoel om te wees nie.
Wanneer Dawid die belydenis-gedig (in Psalm 51) skryf oor dit wat hy Batseba en Urija aangedoen het (sien 2 Samuel 11), skryf hy hierdie woorde: “Teen U alleen het ek gesondig” (51:6). Dit wat ons ons medemens aandoen, is nie net tot hulle skade nie; dit is God self wat die skade gely het! En daarom is dit te verstane dat Dawid in Psalm 103 vra: wie sal hom kan vryspreek? Wie?!
Is dit nie die ironie nie – dieselfde HERE teen wie die sonde gepleeg word, is ook die Een wat die vergifnis aanbied: “Dit is Hy wat al my sonde vergewe … en my met liefde en ontferming kroon” (v3-4). Van veroordeelde tot bekroonde. Van slaaf tot koningskind. Hoe is dit moontlik dat Hy “nie met ons handel volgens ons sondes nie; ons nie vergeld vir ons ongeregtighede nie” (v10)? In plaas van ons verwerp, verwyder Hy ons oortredinge van ons “so ver as die ooste van die weste af is.” Ewig onbereikbaar! In plaas van ‘n ongenaakbare god (soos die godedom van daardie tyd), is hierdie God “Soos ‘n vader hom ontferm oor sy kinders” (v13).
Wie is ek?
Ek is … sondaar.
Ek is … nie wie U my bedoel om te wees nie.
Maar,
Ek is … ook ‘n begenadigde.
Ek is … verloste.
Ek is … ontvanger van die oneindige goedheid van ‘n God wat my, ten koste van God self, ‘n vrygespreekte maak.
GEBED: Wie is soos U! Dit is al wat ek kan sê, my Here.
MUSIEK:
Die roerende mooi verwerking van Psalm 73, “Wie het ek buiten U”, gekomponeer deur Chris Lamprecht, is vandag se musiekkeuse. Dit word gesing deur die Universiteitskoor van Johannesburg, o.l.v. Renette Bouwer.