Ek is … 12 Feb.

“Geliefdes, laat ons mekaar liefhê, want die liefde is uit God… Wie nie liefhet nie, het God nie leer ken nie, want God is liefde.” (1 Joh 4:7-8a)


Sê iemand ooit vir jou, “Jinne, jy is darem jou ma (of jou pa) uitgeknip” nie? Kinders eggo hul ouers se gedrag; en selfs ook hul geaardhede. “Aardjie na haar vaartjie”, en “die appel val mos nie ver van die boom nie.”

Jesus het eens gesê, “’n Boom word tog aan sy vrugte geken” (Matt 12:33). En Johannes die Doper het (in Luk 3:8a) gesê dat ons vrugte moet dra wat by ons bekering pas. Iemand sou nou kon vra, Hoe lyk vrugte-van-bekering? Hierdie antwoord moet ‘n mens by die “beginpunt” gaan soek.

Daar is ‘n teksvers wat ons etlike kere in die Bybel teëkom: “Ek, die HERE (JHWH), is die barmhartige en genadige God, lankmoedig, vol liefde en trou” (Eks 34:6; Ps 86:15; 119:156, 145:8; Joël 2:13, Jakobus 5:11). Klink dit nie vir jou ook na die vrug van die Heilige Gees wat in ons lewe gedra word nie?

Die Johannesskrywer voeg al hierdie eienskappe van God onder een sambreelterm: God is liefde. Dit is die wese van God; en daarom is dit ook wat God doen. Dit is God se identiteit. Daarom is dit ook ons identiteit. God se “ EK IS LIEFDE ” is die rede waarom ons – soos die 14de-eeuse priester, Tomas van Kempen – behoort te sê: “Om te sê dat ek as beeld van God gemaak is, is om te sê dat liefde die rede vir my bestaan is, want God is liefde.”

Wie is ek? Eenvoudig: Ek is wat ek doen. Daarin lê my integriteit (of gebrek daaraan). My oorsprong begin by die God van liefde. Daarom is ‘n lewe gewy aan liefhê ons elkeen se roeping.

GEBED: U seën my met liefde in oorvloed, sodat ander uit die oorvloed geseën kan word.


MUSIEK

Gerhard Tersteegen het reeds in 1750 die lied, “Ich bete an die Macht der Liebe” (Ek aanbid die Krag van liefde) geskryf. Die melodie is deur die Russiese komponis, Dmitri Bortnjanski (1751–1825) gekomponeer. Die Montanara Koor van Stuttgart is die uitvoerende kunstenaars.
Die Engelse lirieke verskyn saam met die Duitse teks in die video.