Ek is … 11 Feb.

“Ek is wat Ek is. Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Ek is’ het my na julle toe gestuur.” (Eks 3:14)


“Ek is…” Dit is hoe ek myself aan jou sal voorstel.
Jou reaksie is presies dieselfde: “En ek is…”.
Waar daar by ons “Ek is…” telkens ‘n ellips kom (omdat ons moet uitbrei op wie ons is), is daar na God se “Ek is” ‘n punt.
Ek is net.
Ek is wie Ek is.
Ek is en was en sal tot in alle tye Ek wees.
JHWH

Die vier letters, JHWH, is onuitspreekbaar. (Vertalers het later vokale onder die letters geplaas sodat ons dit as “Jahwe”, of “Jehowa” kan uitspreek.) Hierdie letters ( J + H + W + H) is net lugklanke. Asem. Inasem. Uitasem. Soos ‘n baba met eerste asemteug begin lewe; en ‘n sterwende wat ‘n laaste asem uitblaas – so klink die klanke van JHWH. Immerteenwoordig. Ons lewe lank.

Die JHWH wat Moses daardie dag ontmoet, is gans anders as die gode van naburige volkere. Hier by hom is die Verbondsgod (die God van Abraham, Isak en Jakob). Die beloftemakende God. M.a.w., die getroue God. Maar meer nog, dit is ‘n omgee-God. Die God-met-die-sagte-hart. Dit is ‘n God wat “die nood van die Israeliete gesien en dit ter harte geneem het” (Eks 2:23-25, ook Eks 3:7-10). Moses ontmoet die God wat nie wegkyk van ellende nie. Dit is die God wat vryheid uit gebondenheid wil bring.

Moses ontmoet ook die saamstap-God. Immerteenwoordig. Immanuel. Dit beloof God aan Moses: “Ek sal by jou wees” (3:12).

Soos ek en jy mekaar steeds nie ken, net omdat ons ons name teenoor mekaar genoem het nie, so sou Moses nie met ‘n naam vir God leer ken nie. Dit neem ‘n verhouding – ‘n saamwees-met-mekaar – om mekaar te ken. Dit neem vriendskap om mekaar te leer ken.

Dit is wat God vir Moses daardie dag aangebied het.

GEBED: Wees my beste vriend, my Here en my God.


MUSIEK

Die musiekkeuse val vandag op die geliefde Rina Hugo wat “Wat ‘n vriend het ons in Jesus” saam met die Kwintet Mannegroep, Hi5, sing.