Lig in die Winter
13 – Donkerte het perke (17 Jul)
📖 “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” Johannes 1:5
Niemand kies donker tye nie. Niemand bid vir verlies, teleurstelling of pyn nie. Laat ons eerlik wees – donker tye kan ons vreugde steel. Dit kan ons planne omverwerp. Dit kan selfs ons oorversekerdheid tot die knieë dwing. Maar daar is iets wat die donkerte in ons lewens nie kan regkry nie – dit kan nie die Lig uitdoof nie.
Dit vra ‘n geloofsvolwassene om te erken, “Dit is vir my goed dat ek swaargekry het…” (sien Psalm 119:71). Nie omdat die pyn goed was nie, maar omdat God geweier het om die pyn die laaste woord te gee.
Wanneer ons terugkyk, ontdek ons soms dat God juis in die moeilikste seisoene geduldig aan ons karakter, ons geloof en ons deernis gebeitel het.
Die donker is nooit die geskenk nie. God se teenwoordigheid daarin is. En dáárdie lig kan geen duisternis ooit uitdoof nie.
🔌 BYBELSTUDIE
Psalm 119:65-72 : Die psalmdigter ontdek, eers ná sy swaarkry, hoe afhanklikheid hy van God geword het.
Jesaja 9:1-2 en Johannes 1:1-5 : Die profesie is vervul: ondanks duisternis sal die Lig aanhou skyn.
☝🏼Watter gawe het ‘n moeilike seisoen in jou lewe gebring wat jy andersins nooit sou ontvang het nie?
🙏🏽 Here, ek verstaan nie altyd die donker nie. Maar help my om U ook daar raak te sien. Amen.

