Lig in die Winter
14 – Aanhouer vasstaan (20 Jul)
📖 “Julle het volharding nodig om die wil van God te doen en te ontvang wat Hy belowe het.” Hebreërs 10:36
Ons bewonder dikwels mense wat groot hoogtes bereik. Die Bybel bewonder dikwels mense wat eenvoudig aanhou. So bou Noag vir jare aan ‘n ark voordat daar ‘n wolkie op die horison verskyn (Genesis 6-7). Simeon wag sy lewe lank in Jerusalem om die Messias in sy arms vas te hou (Lukas 2:25-35). En Anna, die profetes, dien God dag-en-nag lank in die tempel totdat sy Hom uiteindelik sien (Lukas 2:36–38).
Daar is iets heiligs aan volharding. Nie die soort wat opslae maak nie, maar die soort wat elke dag getrou bly.
Ons leef in ‘n wêreld wat nuutheid vier. Die Bybel vier getrouheid. Getrouheid weerspieël natuurlik iets van God self: Hy laat nooit sy kinders of sy beloftes in die steek nie. Daarom kan ons aan Hom bly vashou, want Hy is vandag en môre en oormôre dieselfde.
Dus: die grootste geloofsdaad is nie noodwendig om iets nuuts te begin nie. Soms is dit om aan God vas te hou totdat sy tyd aanbreek.
🔌 BYBELSTUDIE
Hebreërs 6:11-15 - Abraham ontvang God se belofte deur geloof én geduldige volharding.
Jakobus 5:10-11 - Die profete en Job wys dat die Here getrou bly aan dié wat volhard.
☝🏼Waar vra God jou dalk nie vir groter geloof nie, maar vir steeds aanhou glo?
🙏🏽 Here, gee my die genade om getrou te bly, omdat U altyd getrou is. Amen.

