BELOFTES #29

Dit gebeur so maklik dat  ’n mens ’n teksvers – hoe mooi ook al – uit konteks aanhaal. Jy maak die Bybel op  ‘n spesifieke plek oop; jou oog val op ‘n enkele teks en dadelik weet jy: dít is “my” teks. Dit het pas met my gebeur – ek het iets gesoek, en voilà, my oog vang hierdie woorde van Paulus: “My God sal in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus” (Fil 4:19).  Wow. Dit is bykans soos om ‘n blanko getekende tjek te ontvang waarby jy self die bedrag kan invul.

Hokaai! As jy mooi gaan lees, sal jy sien dat Paulus die gemeente in Filippi bedank dat hulle hom ondersteun in sy werk as evangelieverspreider. Die belofte is dat God in alles sal voorsien wat ons nodig het om God se wil uit te voer. Soos Jesus in die Bergpredikasie ook leer: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt 6:33).

Filippense 4:19 beklemtoon eintlik dat God in al ons behoeftes voorsien deur Jesus Christus vir ons te gee. En, namate ons uitvoering gee aan Jesus se opdrag om medewerkers van die evangelie te word, so ontdek ons dat God in alles voorsien wat ons daarvoor nodig het.

John Newton, die 18de-eeuse teoloog, het dit mooi gestel: “Everything is needful that He sends; nothing can be needful that He withholds.”  Met ander woorde, vertroue in God beteken dat jy weet as God iets weerhou, is dit tot ons beswil en as God iets gee is dit tot ons beswil.

Wat ons dink ons nodig het, is so klein in vergelyking met die rykdom wat God eintlik aan ons wil gee!

GEBED: Soos Paulus sê ek ook: “Aan ons God en Vader behoort die heerlikheid tot in alle ewigheid! Amen” (Fil 4:20).

MUSIEK:

Ons luister na die Landesjugendchor Südtirol se weergawe van “Benedicamus Domino” deur  Brad Printz.