BELOFTES #28

Die belofte van seën wat God aan ons aartsvader, Abraham, gemaak het (in Gen 17), is so belangrik dat ons ‘n presiese herhaling van daardie belofte kry in Hebreërs 6:13-20.  Dit was nie net ‘n belofte nie, dit was ‘n eed –  die Hebreërskrywer noem dit “twee onveranderlike dinge.” ‘n Belofte op ‘n belofte is ‘n dubbel-versterkte belofte. Daarby herhaal die skrywer dat ál Abraham se erfgename ingesluit was: “Omdat God aan die erfgename van die belofte bo alle twyfel wou verseker dat sy besluit onveranderlik is, het Hy dit met ‘n eed gewaarborg” (Heb 6:17). 

Dit is interessant dat Gal 3:29 moeite doen om vir ons te vertel wie Abraham se nakomelinge is: “As julle aan Christus behoort, is julle ook nakomelinge van Abraham en erfgename kragtens die belofte van God.” Dit is ons! Ons word vandag – weereens – gewaarborg dat God “Sy woord gestand sal doen, en (dit) is vir ons ‘n kragtige aansporing om vas te hou aan die hoop op wat vir ons weggelê is” (Heb 6:18).

God se eed is die aansporing wat ons nodig het om met hoop te leef! Die teoloog Miroslav Volf skryf: “Hope is not a state of mind; it’s an act of the heart.” Positiwiteit is ‘n ingesteldheid; hoop – daarenteen – is ‘n sekerheid. Die boot doen nie die werk nie, die anker doen die werk!   

Daar is soveel dinge wat ons lewensboot heen-en-weer slinger. Maar, jy word vandag weer verseker dat God se eed die waarborg is dat die anker reeds uitgegooi is. Meer nog, God self hou die anker vas: “Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker, wat agter die voorhangsel vas is” (Heb 6:19).

Ons hoef nie te weet hoe dinge sal uitwerk nie; ons weet wel dat dinge sal uitwerk.

GEBED: Leer my om U blindelings te vertrou, want U alleen is die anker.

KUNS:   Christ and the Fishermen  Eugène Boudin

MUSIEK:

VOCES8 sing ‘Media Vita’ deur Kerensa Briggs. ‘Media Vita’ is in 2015 geskryf om 500 jaar sedert die geboorte van die Engelse Renaissance-komponis, John Sheppard, te vier. Die stuk put inspirasie uit beide die uitgestrektheid en intensiteit wat in Sheppard se omgewing gevind word en die betekenis wat in die teks self gevind word (‘Te midde van die lewe is ons in die dood … Heilige en barmhartige Verlosser, verlos ons nie aan die bittere pyne van die dood nie’).

Uit die liriek:

In the midst of life we are in death

of whom may we seek for succour,

but of thee, O Lord,

who for our sins

art justly displeased?

Holy God,

Holy mighty,

Holy and merciful Saviour,

deliver us not unto bitter death.