BELOFTES #30

Hierdie reeks het begin met die belofte dat God by ons is, en hierdie reeks sluit met dieselfde belofte af.   Elke Sondag staan pastors/predikante met ons arms omhoog, gemeentelede met oop hande, en spreek ons die seën oor mekaar uit. ‘n Nuwe reis en ‘n nuwe week wag vir jou buite die drumpel van die kerkgebou; hoe onseker dit ook al mag wees; maar een ding wéét ons: die Drie-Enige God is ons beskermer.

Toe Moses die Israeliete uit Egipte gelei het, het God hulle – ter wille van hulle eie beswil – die lang pad (‘n 40-jaar lange ompad) laat trek (aldus Eks 13:17-18). Ek verstaan die volk se murmurering. Murmureer ons nie ook soms op ons lewenspad nie! Is ons nie ook pelgrims wat daagliks die onbekende moet aandurf nie! Maar, van een ding kan ons seker wees: elke tree van hierdie reis vind plaas in die teenwoordigheid van God. Daarom moes die priesters élke dag die Israeliete herinner: “Die Here sal julle seën en julle beskerm; die Here sal tot julle redding verskyn en julle genadig wees; die Here sal julle gebede verhoor en aan julle vrede gee” (Num 6:24-26).

Hierdie is nie ‘n tydgebonde belofte nie. Selfs nadat daar reeds ‘n tempel in Jerusalem was, het die priesters steeds die volk aan hierdie belofte herinner. So lees ons in 2 Kronieke 3:27: “Toe die priesters en die Leviete opstaan en die seën uitspreek oor die volk, het God dit gehoor: hulle gebed het die heilige woning van God in die hemel bereik.”  Die belofte word ons gebed: wees by ons; bly by ons; beskerm ons. Soos U beloof het.

Ek ken nie jou lewe nie. Ek weet nie watter uitdagings daar op jou pad is nie.  Maar, ek kan jou vandag herinner aan God se tydlose belofte!

GEBED: Dankie dat ek U – op hierdie oomblik – in my lewe as die teenwoordige God kan beleef.

MUSIEK: 

“Bly by my,” geskryf deur Henry Francis Lyte in 1847, is ‘n loflied wat diep geassosieer word met vertroosting en goddelike teenwoordigheid gedurende tye van nood en verlies. Die aangrypende lirieke, wat ‘n beroep doen op God se onfeilbare teenwoordigheid in die lewe se donkerste oomblikke, het dit ‘n gunsteling in beide godsdienstige en sekulêre omgewings gemaak.

Hierdie uitvoering was deel van ‘n feestelike musiek-uur wat op Sondag, die 21ste September 2024 by die Silvertown-ouditorium in Athlone, Kaapstad, gehou is, met Jason Atherton wat die Nuwe Apostoliese Kerk se Jongmensekoor en -orkes gedirigeer het.