Ek wil ‘n wag voor my mond sit wanneer ek oor menslike ellende skryf – ek wat in veiligheid leef; nog nooit honger gaan slaap het nie; nie die grusaamheid van lyding en ontworteling en oorlog ken nie. Hoe donker moet die donkerte nie wees nie om soos Dawid uit te roep: “My Rots, waarom het U my vergeet?” (Psalm 42:10). Tog weet ek, elkeen van ons ken dít wat die 16de-eeuse Spaanse teoloog, Johannes van die Kruis, genoem het: “Die donker nag van die siel.” Ons donkerte van godverlatenheid mag dalk verskillend wees, maar menswees impliseer tye van swaarkry, net soos dit tye van vreugde insluit.
Op my rak is ‘n boek van die teoloog, Barbara Brown Taylor – Learning to walk in the Dark – waarin sy ook na Johannes van die Kruis verwys en dan sê: “The only way to be fully alive is to embrace the pain that comes with living.” Hoe teenstrydig dit ook al mag klink, dit is die donker tye van ons lewe wat vir ons soms die beste leerskool van hoop en geloof bied. Soos Paulus dit beskryf: “Swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof, en egtheid van geloof kweek hoop; en dié hoop beskaam nie, want God het sy liefde in ons harte uitgestort deur die Heilige Gees wat Hy aan ons gegee het” (Rom 5:3-5). Swaarkry het dus nie die laaste sê nie, hoop het! “Laat ons styf vashou aan die hoop wat ons bely, want God is getrou: Hy doen wat Hy beloof het” (Heb 10:23).
Daarom bid ek saam met Paulus vir jou: “Mag God, die bron van hoop, julle deur julle geloof met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker kan word deur die krag van die Heilige Gees” (Rom 15:13).
GEBED: Maak van my donkerste nag ‘n leerskool vir hoop en vertroue, my HERE.
KUNS: Rembrandt’s, Die storm op die See van Galilea(1633)
MUSIEK:
Moderne verwerking van die klassieke gesang “My Hope is Built” met lirieke as deel van die video. Verwerk en opgeneem deur Nathan Drake; Geskryf deur Edward Mote, 1834.