Ons sit die vervolgverhaal voort: God het met Abraham en sy nageslag ‘n verbond gesluit om hul God te wees (aldus #18). Maar, telkens verruil die nakomelinge van Abraham, Isak en Jakob die Lewende God vir lewelose afgode. ‘n Gebreekte verbond kan nie vasgegom word nie; dit is soos kliptafels wat uitmekaar spat, sou hulle die grond tref. Maar, daar word ‘n nuwe belofte gemaak (in Jeremia 31, sien #19-20). Een wat wag op vervulling. Dit is toekomstaal: “Daar kom ‘n tyd …,” (v31).
Vier eeue later leef daar ‘n skrifgeleerde, ene Paulus, wat die woorde van Jeremia goed geken het. Op die Damaskuspad ontmoet hy die Een oor wie Jeremia profeteer. En so skryf Paulus aan die gemeente van Korinte: “Dit is tog duidelik dat julle ‘n brief van Christus is, deur ons diens geskrywe, nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God, nie op klip nie, maar op die harte van mense” (2 Kor 3:3). Die letters van die wet (God se gebooie) kom ons nie na nie, daarom verdien alle mense eintlik die dood. Maar, “die wet wat in letters op klip gegraveer is, het in heerlikheid gekom” (v7). Soos God gesê het: Daar kom ‘n tyd. En die tyd is nou!
Ons is nie meer slawe van ‘n ou wet nie; nee, die Gees van die Here het vir ons vryheid gebring (v17). Ons is nuwe mense: “Ons word al meer verander om aan die beeld van Christus gelyk te word” (v18). Algaande word ons weer wie ons al die tyd bedoel was om te wees. Mense wat hul harte terugdraai na God toe.
Ons lewens verander wanneer ons harte verander. En net die Heilige Gees kan dit doen. En algaande verander God ons harte totdat ons harte een polsslag met Christus s’n raak.
Die Gees waarborg dit!
GEBED: Dankie dat U die God is wat uit doodsheid lewe kan bring!
KUNS: “Jesaja se lippe met vuur gesalf” deur Benjamin West
MUSIEK:
Ons kyk na ’n pragtige uitvoering van die The Gesualdo Six groep se weergawe van “This is the record of John”, ‘n bekende gesang deur die Renaissance-komponis, Orlando Gibbons.