BELOFTES #19-20 (NAWEEK)

As dit waar is dat ons met elke toesegging en belofte meer van God se hart vir die mensdom leer ken, dan weet ek nie wat doen ons aan God se hart wanneer ons God nie op God se woord ernstig neem nie! Waarom het God nie maar net moed opgegee met ‘n verbondsvolk wat nie hulle deel van die verbintenis nakom nie? Waarskynlik is die antwoord eenvoudig: God kan nie! God kan nie anders as om getrou te bly aan God se eie beloftes nie. Want God maak die belofte aan Homself – soos ons gister (#18) reeds gesien het.

Maar, soos ons ook weet, ‘n verbond is tussen twee partye – daarom is ‘n verbond wat verbreek word waardeloos. Alles moet van voor af begin. Daarom is die woorde van Jeremia 31:31-33 so besonders: “Daar kom ‘n tyd, sê die Here, dat Ek met julle ‘n nuwe verbond sal sluit … Ek sal my woord op julle harte skryf en dit in julle gedagte vaslê. Ek sal julle God wees en julle sal my volk wees.” Daar kom ‘n tyd – maar, alles is anders! Nie meer met ink wat kan verdof nie; maar God het sy woorde (sy beloftes en sy gebooie) met bloed in ons harte vasgelê. God maak seker dat ons nooit ons rug kan draai op God se beloftes nie, want waarheen ons ook al draai, daar draai ons hart saam met ons. 

Hoor hoe herhaal God dit: “Ek sal hulle ‘n onverdeelde hart en ‘n vaste koers gee … Ek sal nooit ophou om aan hulle goed te doen nie en Ek sal in hulle die begeerte lê om My te dien … Ek sal dit geniet om goed te doen aan hulle in my trou …” (Jer 32:39-42).

God geniet dit om goed te doen aan ons. Oor en oor wil ek dit lees.

GEBED: U woorde is my lewe, my HERE; dit is my ganse bestaan!

KUNS: “Die vreedsame koninkryk” deur Edward Hicks

MUSIEK:

Ons luister na die mooiste Afrikaanse lied deur die voorste Afrikaanse sanger Steffie le Roux: “Die Nuwe Verbond: Aria vir die Universum”   saam met die Horizons Project Choir.