BELOFTES #18

Baie beloftes is gebaseer op toeseggings. Hier is ‘n goeie voorbeeld: “Julle vir wie Ek gedra het van julle geboorte af, wat Ek vasgehou het vandat julle daar is. Ook tot in julle ouderdom is Ek die Here, tot in julle grysheid sal Ek julle dra” (Jes 46:3b-4a).  By ‘n belofte of ‘n toesegging is daar net een party betrokke. Maar, wanneer ‘n verbond gesluit word, gebeur dit altyd tussen twee partye, en voor getuies. Dit is soos ‘n verdrag wat twee landsleiers met mekaar teken na ‘n oorlog, en weerskante staan elke land se weermagleier as getuie.

Maar, het jy al raakgelees dat, wanneer God met sy volk ‘n verbond gesluit het, God alleen die verbond gemaak het. God sluit met God self die verbond. Genesis 15 is ‘n goeie voorbeeld. God maak ‘n belofte aan Abraham (toe nog Abram), maar Abraham wil bewyse hê. Abraham gaan tog nie vir ewig leef nie, hoe sal hy weet dat God getrou sal bly? Daarom sluit God met Abraham ‘n verbond. Maar hoe kan die skepsel tog ‘n verbond maak met sy Skepper? Daarom maak God vir Abraham aan die slaap, en alleen beweeg God tussen die fakkels en die brandoffers. Die verbond is gesluit, God is God se eie getuie. 

Maar, daar is altyd implikasies wanneer ‘n verbond gesluit word. God se volk mag aanspraak maak op God se sorg, maar daarom mag God aanspraak maak op die volk se gehoorsaamheid. Eintlik is dit al wat die Tien Gebooie was: As julle (gebod), dan sal Ek (belofte). Ons dink aan wette as inperking – “jy mag nie” – maar eintlik is dit tien Goddelike beloftes van beskerming.

Nou maak dit sin dat Jesus (in Matt 5:17-18) kon sê: “Ek het nie gekom om die wet en die profete ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry.”

(Môre sit ons die gesprek voort)

GEBED: U is die getroue God, daarom wíl en mág en kán ek, want U sál.

KUNS: La Manne en Nicolas Poussin 

MUSIEK:

Ons kyk na die musiekvideo van “Lead, Kindly Light” die Christelike gesang met temas van vertroue, leiding en God se teenwoordigheid in tye van onsekerheid. Dit is in 1833 deur John Henry Newman geskryf en hier uitgevoer deur Aled Jones.