Al Psalmend 3 (7 Nov)

 Luister tog na my woorde, Here, hoor hoe ek sug. Gee tog aandag aan my hulpgeroep, my Koning en my God, want tot U bid ek.” (Ps 5:2-3)

*****

Het jy dit raakgesien? Nie net eenmaal nie, maar driemaal, direk na mekaar, bid Dawid in Psalm 5: “Luister tog na my woorde.” “Hoor my sug.” “Gee aandag aan my geroep.” Wat is só belangrik? Waarom so aanhou vra? Dit laat my dink aan my sussie se jongste lammetjie wat in die eerste week van Graad 1 vir die klasjuffrou – nadat dié toe al etlike kere gevra het dat die kinders moet sit en hulle kleurkryte uithaal – vir die juffrou sê, “Juffrou het dit nou al ‘n duisend keer gesê!” Die juffrou sou seker wou sê, “Maar hoekom het julle dan nie ore nie!” 

Dit is nie dát God nie sal hoor nie; dit is eintlik wát God moet hoor waaroor dit vir Dawid gaan. So, wat is dit waaroor Dawid so passievol pleit dat God hom moet aanhoor? In vers 9 vind ons die antwoord: “Leer my tog wat reg is en help my om u wil te doen.” Sien jy die parallelisme raak wat Dawid gebruik: leer my / help my; wat reg is / u wil.

Is ons begeerte om gehoorsaam te wees aan God se wil; en om deur God geleer te word om in toewyding aan God te leef so ‘n hoë prioriteit soos by Dawid? Klink ons gebede soos Bob Hartman Psalm 5 vertaal:

“Listen to my words, O Lord,

listen when I sigh.

Listen to my prayers, O God:

hear me when I cry.”

GEBED: “U wil is vir my so belangrik, Laat U wil dan altyd geskied!”

MUSIEK:  Ons kyk na die musiekopname van “Give Ear to My Words” deur

The N Crew.

Uit die liriek:

Give ear to my words, O Lord

Consider my meditation

Hearken unto the voice of my cry

My King and my God

For unto Thee will I pray

My voice shalt Thou hear in the morning

O Lord, in the morning will I direct my prayer

Unto Thee and will look up