Al Psalmend 3 (8 Nov)

“Oor U wil ek my verbly en vrolik wees, u Naam wil ek besing, o Allerhoogste.” (Ps 9:3)

*****

Matthew Henry, ‘n teoloog uit die 18de eeu, skryf in een van sy kommentare oor Psalm 9 ‘n kosbare sinnetjie. Ek gee dit net so in die oorspronklike Engels weer: “Holy joy is the life of thankful praise, as thankful praise is the language of holy joy.” Hoe sal ‘n mens weet of die vreugde wat jy in jou lewe ervaar ‘n heilige vreugde is? Wanneer jy nie anders kan as om God te loof oor dit wat jy ervaar nie. Ek wil dit memoriseer: lofprysing is die moedertaal van heilige vreugde.

Psalms 9 en 10 is eintlik een psalm. Wat jy daarin sien, is vreemd: dit is gelyktydig ‘n loflied en ‘n klaaglied wat mekaar in die paragrawe afwissel. Dalk is daar iets belangrik om te leer: hoe om te midde van klaagtye steeds met vreugde te kan leef.  Dit is nie so vanselfsprekend nie, want swaarkry-tye (veral hulle wat op die wysie gesing word van “By die dood van die seun” – aldus vers 1) beroof ons maklik (en seker verstaanbaar) van ons vreugde. Tog leer ons by die psalmdigter hoe geloofsvertroue in God so kan groei dat swaarkry nie die kollig hoef te steel van vreugde nie. Vreugde hang inderdaad nie van ons omstandighede af nie! As ons dit leer, dan word ons vreugde ‘n heilige vreugde – immerteenwoordig. En dan begin ons werklik verstaan wat lofprysing werklik is: lof, ten spyte van “die dood van die seun.”

Mag ook jy die woorde van Matthew Henry nie vergeet nie: “Holy joy is the life of thankful praise, as thankful praise is the language of holy joy.”

GEBED: Selfs te midde van klaagliedtye, dankie dat ek my oor U kan verbly en vrolik wees; oor U ‘n loflied kan sing, o Allerhoogste.

MUSIEK:  Ons luister na  “I Will Give Thanks unto Thee, O Lord, with My Whole Heart” deur die Exeter Katedraalkoor.