“Moet jou nie ontstel oor skelms en jou kwel oor skurke nie, want soos gras vergaan hulle gou en soos groenigheid verdwyn hulle sommer. Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here, en Hy sal jou gee wat jou hart begeer” (Ps 37:1-4).
*****
Net vier psalms begin met ‘n waarskuwing, maar Psalm 37 s’n is baie spesifiek. Dieselfde waarskuwing is ook in Spreuke 24:19-20a: “Moet jou nie ontstel oor skelms, jou kwel oor goddelose mense nie, want ‘n slegte mens het nie ‘n toekoms nie…” Dalk is dit so ‘n spesifieke waarskuwing, juis omdat ons so maklik in die strik van vergelykings trap.
In ons land het ons al spottenderwys begin sê, “Crime pays.” Ons sien dit daagliks om ons: mense wat wegkom met (die metaforiese) moord, terwyl die eerlike en pligsgetroue sukkel om ‘n bestaan te maak. Maar hierdie psalm rig nie net ‘n waarskuwing nie; dit wil juis by ons ‘n perspektiefverskuiwing bewerk. Draai jou oë weg van enige (oënskynlike) suksesstories van ander en begin konsentreer op God se langtermynplanne. Maak God se begeertes jou begeertes, dan sal jy niks anders hoef te begeer nie.
Dit is baie praktiese raad wat volg: vertrou op die Here en doen wat goed (en reg) is. ‘n Kerkvader van ouds, Johannes Chrysostomus, het gesê dat ons nie goeie dade doen met die verwagting om aardse beloning te ontvang nie: “Doen wat goed is, nie vir menslike lof nie, maar uit liefde vir God. Dit is die weg na ware vrede en vreugde.”
Dit is vir my die mooiste lewensmotto: “Woon en werk rustig voort.” Andrew Murray het dit die sleutel tot ‘n vrugbare lewe genoem. God beloof om vir ons te gee wat ons nodig het – vrede wat alle verstand te bowe gaan.
GEBED: Die begeerte van my hart is om te leef en werk tot U eer, HERE.
MUSIEK:
Ons luister na die Duitse weergawe van Lewandowski se Psalm 37 “Befiehl dem Ewigen deinen Weg” deur Márton Levente Horváth, die Hongaarse Radio-koor, Zoltán Pad en Andor Izsák.