“In u hande gee ek my lewe oor, want, Here, troue God, U het my vrygemaak.” (Ps 31:6)
*****
Ek drink by my vriendin tee; gesels diep geselse. Haar oë is vol trane: “Ek verlang daarna dat die Here kom. Die pyn raak te swaar.” Dit klink soos Dawid se klaaglied van Psalm 31:11: “My lewe vergaan van kommer en my jare van swaarkry; deur my ellende word my krag geknak en teer my liggaam uit.”
Psalm 31 is ‘n psalm van verswakte en Krag; van vlugteling en Toevlug; een wat uitroep:“red my” en die Een wat die redder is. Die pad word op allerhande maniere vir Dawid versper, maar daar is Een wie se aangesig so helder skyn dat dit lig op die pad bied (v17, 2020 vertaling). Dit is vir ons ‘n bekende psalm, omdat ons Jesus se woorde aan die kruis herken: in Sy Vader se arms is sy gees veilig.
Dawid gee in Psalm 31 die woordeskat wat ons nodig het om te bid wanneer ons lewe uitmekaar val. Hy herinner ons dat God nie – soos ons soms dink – ‘n afgeleë waarnemer van ons lewens is nie. Hoe sal ons ooit God as werklike skuilplek en rots leer ken, as ons nie juis deur ellende daarheen gedryf word nie. Daarom is dit nie ‘n teken van twyfel wanneer ons in tye van beproewing na God uitreik nie; dit is juis ‘n teken van geloof! Ons hoef nie sterk te wees nie. God is die sterkere.
Die digter, Amy Carmichael, skryf in een van haar gedigte (In the Hollow of His Hand) so:
“I am under the shelter of His wing,
He will keep me safe from the storm;
In the hollow of His hand I lie,
And I rest in the refuge of His arm.”
GEBED: U hand hou my vas; in U arms dra U my
MUSIEK:
Ons luister na die Nederlandse “Naar U vlucht ik toe – Psalm 31” deur Antoine en Huub Oosterhuis en die Koor vir nuwe Nederlandse godsdienstige musiek van hulle album ‘Ons sing die monsters weg’.