“Een mens kan tog nie ‘n ander loskoop van die dood en aan God ‘n losprys vir hom betaal nie?” (Ps 49:8).
*****
Iemand noem Psalm 49 ‘n “Psalm vir resessietye.” ‘n Resessie maak almal van ons – ryk en arm – paniekerig. Kom ons wees eerlik, ryk en arm kan ewe materialisties wees, wel om verskillende redes: die een begeer om nóg ryker te raak, die ander een om óók ryk te word. Ons trap so maklik in die strik van die onversadigbare begeerte om te hê, en hê, en hê. En tog, “Elke mens, sonder uitsondering, ryk en arm … as hulle sterf, neem hulle niks saam nie…” (49:3,18).
Die dood is ‘n ongenaakbare en gulsige realiteit. Daar is geen uitkomkans daarvan nie. Daarom vra die psalmis (in v8): Wie kan aan God ‘n losprys vir ‘n lewe betaal? Daar kom dadelik ‘n antwoord op die vraag: “Daar is immers net een God, en daar is net een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus wat Homself as ‘n losprys vir almal gegee het.” (1 Tim 2:5-6). Maar wat dit vir my so besonders maak, is dat die losprys van Jesus nie bedoel is dat ons ná ons dood met God versoen kan wees nie, maar reeds hier op aarde “die lewende God kan dien! Hiervoor het Christus immers Homself as volkome offer deur die ewige Gees aan God geoffer” (Heb 9:14).
In hierdie lewe leef ons soveel keer as slawe: slawe van materialisme; slawe van ander se opinies; slawe van ons verlede. En so kan ek aanhou. Maar, dan herinner Paulus: “Julle is vrygekoop en die prys is betaal; moet dan nie slawe van mense wees nie” (1 Kor 7:23).
Leef jou lewe as vrygekoopte. Dien God voluit. Met geen angs vir die dood nie.
GEBED: U het die slawejuk opgelig, Here Jesus. Laat ek U dan in vryheid volg.
MUSIEK:
Ons luister na Psalm 49 die King’s College Cambridge-koor.