WEEK 3 – VREUGDE
Blykbaar neem dit ons brein slegs drie sekondes om ‘n negatiewe gedagte/gebeurtenis vas te lê. Daarenteen neem dit veertien sekondes om ‘n positiewe ervaring in jou geheuebank te stoor. Wow. Hoe uit balans moet my arme geheuebank nie wees nie!
Op ‘n manier wil dit tog lyk asof ons breine gerat is om die negatiewe (of noem dit “gevaar”) eerste raak te sien.
Ter wille van ons eie oorlewing moet ons seker hierdie negatiewe geheuebank versterk. Behalwe dat ons moet erken, die meeste van ons negatiewe inprenting het in ons tyd niks met oorlewing te make nie. Dit het met ons ingesteldheid te make. Ons kies dit.
Máár… Dit is hierdie woordjie “maar” wat al die verskil bring. Hoeveel maal het jy in hierdie Advent al hierdie lied gehoor? Dalk tydens ‘n erediens gesing? Neurie jy dalk nou die wysie as jy die woorde hoor: “Joy to the World, the Savior reigns!” Selfs die veld, die klippe, berge, dale bars uit in ‘n vreugdelied. Die lied gaan aan: “No more let sins and sorrows grow, / nor thorns infest the ground / He comes to make his blessings flow.” Dit is wat die engel in Luk 2:10 gesê het: “ek bring vir julle ‘n goeie tyding van groot blydskap!” Stoor hierdie nuwe inligting in julle gedagtes; maak daarvan ‘n inprenting in julle brein, laat die nuwe oordragstowwe die “goedvoel”-hormone aktiveer; laat dit julle manier van dink verander; julle manier van leef verander.
Ai, was dit so maklik, kan jy dalk dink; ons is dan “geprogrammeer” om die negatiewe te onthou. Máár, dit is juis die goeie nuus! ‘n Nuwe “bedrading” is moontlik. Kom! Kom! Kom ontvang dit. En die uitkoms daarvan: “liefde, vreugde, vrede, geduld, vriendelikheid, goedhartigheid, getrouheid, nederigheid en selfbeheersing” (Gal 5:22-23).
Mag jou gedagtes oorloop van vreugde, en mag jou lewe dit weerspieël.
Gebed: Ek gee my geheel aan U beheer oor, Heilige Gees.
MUSIEK:
Ons kyk na die musiek video van “Joy In The Morning” deur The “West Point Brass” en The Tabernacle Choir https://youtu.be/fwMCoSJJMPo?si=liFuXEHAnkmhzazT

